AfriForum bring dringende hersieningsaansoek oor Zuma se vrylating

Die burgerregteorganisasie AfriForum is in die proses om ’n dringende hofaansoek teen sowel die Departement van Korrektiewe Dienste as die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, Arthur Fraser, te beteken.

Hierdie dringende hofaansoek hou verband met die onlangse vrylating van voormalige president Jacob Zuma op mediese parool ten spyte daarvan dat dit voorkom asof die toepaslike statutêre voorskrifte nie nagekom is nie. AfriForum het verlede week ’n dringende prokureursbrief aan Fraser beteken in sy hoedanigheid as nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste waarin antwoorde oor Zuma se vrylating versoek is.  

Die brief het onder meer gevra of Zuma aan ’n terminale siekte ly wat sy mediese parool regverdig, dat besonderhede oor Zuma se toestand bekend gemaak moet word, asook afskrifte van die aansoek om mediese parool en die mediese verslag waarin die aanbeveling gemaak word.

Hoewel Fraser die brief gelees het, het hy nie op die brief gereageer nie. Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê hierdie is ’n saak van nasionale belang en dat dit ’n skande is indien mense op grond van hul politieke aansien bevoordeel word.

“Indien dit waar is dat die voormalige president terminaal siek is of op enige ander wyse aan die voorskrifte van die wet voldoen, is daar geen probleem met sy mediese parool nie. Alles wat die Departement van Korrektiewe Dienste egter in die afgelope week gedoen en gesê het, dui op politieke inmenging wat nie aan die voorskrifte van die wet voldoen nie. Die bewerings dat pres. Cyril Ramaphosa betrokke was by die besluit om Zuma vry te laat, stuur ’n duidelike boodskap dat die president nie ernstig daaroor is om korrupsie en misdaad in die regering sowel as die regerende party aan te pak en stop te sit nie,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings