|

100 jaar van Helpmekaar gevier

Waar ’n wil is, is daar altyd ’n weg.

Aan die woord is Frances Delport, hoof van die Beyers Bytjies-kleuterskool in Danville, Pretoria.

Dié kleuterskool is een van vier sentrums wat vandag deur Solidariteit Helpende Hand besoek is ter viering van die 100-jarige herdenking van Helpmekaardag.

Personeel en vrywilligers van Helpende Hand het ook besoek afgelê by die My Lord Conquers Ministries Helping Hands-gemeenskapsentrum, die Filadelfia Ark-sorgsentrum se ouetehuis, die LIG kinderbediening en die Moeggesukkel-fasiliteit buite Pretoria.

Die LIG kinderbediening is ’n niewinsgewende organisasie wat fokus op behoeftige Afrikaanssprekende kinders en tieners in Proklamasieheuwel, Danville en Elandspoort. My Lord Conquers Ministries Helping Hands-gemeenskapsentrum sluit ’n kleuterskool, gimnasium en verskeie klasse en projekte vir ouers en kinders in hul gemeenskap in. Moeggesukkel is daarop gemik om hawelose mans ’n tweede kans te gee deur vir hulle behuising en opleiding te bied sodat hulle mettertyd weer die werksplek kan betree. Filadelfia Ark is ’n sorgsentrum in Kameeldrift in die weste van Pretoria en huisves tans sowat 400 mense.

Volgens Ernst Vorster, Helpende Hand se kommunikasiehoof, is daar besluit om die besoeke af te lê om te wys watter daadwerklike impak vrywilligers in gemeenskappe kan maak. “’n Mens besef nie watter groot verskil ’n klein bydrae aan ’n kind of behoeftige persoon se lewe kan maak nie. Hierdie organisasies doen ongelooflike werk om kinders en mense binne hulle gemeenskappe by te staan en te bemagtig.”

Die Helpmekaar Beweging is soos bogenoemde organisasies uit die nood van Afrikaners gebore. Die beweging het tot stand gekom na die Rebellie van 1914/15 toe die Afrikaners in uiterste armoede gedompel was. Sedert 2011 het die Helpmekaar Beweging ‘n gemiddeld van 250 nuwe lenings per jaar aan behoeftige studente toegestaan.

Soortgelyke plasings