|

NGV: Die werklike feite

Na aanleiding van President Cyril Ramaphosa se kommentaar in die parlement waartydens hy ’n rooskleurige prentjie geskilder het van die nuwe wetsontwerp oor nasionale gesondheidsversekering (NGV), gee AfriForum die werklike feite oor hierdie kontroversiële wetsontwerp wat verreikende gevolge vir alle Suid-Afrikaners inhou. Dit is ’n omvattende wetsontwerp wat beoog om die gesondheidsorgbedryf in die land geheel en al te kommuniseer. Dit sal in effek beteken dat die regering die mag sal hê om te besluit watter behandeling jy nodig het, wie dit moet verskaf en waar jy dit moet kry.

  1. Die wetsontwerp kan nog teengestaan word. Die wetsontwerp is onlangs deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, in die parlement ter tafel gelê. Dit is die eerste stap om dié wetsontwerp tot wet te maak. ’n Portefeuljekomitee sal aangestel word om die wetsontwerp te oorweeg, waarna die publiek kommentaar op die wetsontwerp kan indien. Dit is belangrik dat soveel mense moontlik kapsie teen die implementering van hierdie wet maak. Burgerregteorganisasies, soos AfriForum, speel ’n belangrike rol hierin.
  1. Jy gaan ’n lid van die NGV móét word. Suid-Afrikaners gaan geen ander keuse hê nie as om aan die NGV-stelsel te behoort. Boonop sal belastingbetalers verplig wees om daarvoor te betaal, selfs al kies hulle om ook bydraes tot ’n privaat mediese fonds te maak. Om vir fondsdekking in aanmerking te kom, sal landsburgers by ’n geakkrediteerde gesondheidsorgverskaffer of -instelling moet registreer. Kinders wat gebore word, sal outomaties as lede geregistreer word.
  1. Bydraes word in ’n sentrale poel gestort. Alle gesondheidsinkomste wat die NGV genereer, sal in ’n sentrale fonds inbetaal word waaruit betalings gemaak gaan word. Die NGV beoog ’n nasionale, enkelbetalende gesondheidstelsel vir Suid-Afrika wat diensvlakke, prys en die omvang van sorg sal voorskryf.
  1. Belastingbetalers gaan moet opdok. Ongeveer 8,3% van die bevolking gaan verplig wees om die NGV ten bate van die hele land te befonds. Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) was daar in die 2018 belastingjaar slegs 4,8 miljoen geregistreerde belastingbetalers, terwyl Suid-Afrika se bevolkingsyfer in hierdie tydperk 57,7 miljoen was.
  1. Die regering gaan toegang tot jou mediese inligting hê. Die fonds sal jou mediese inligting mag gebruik vir enige regmatige doel wat op die funksies van die fonds van toepassing is. Gesondheidsorgverskaffers sal ook hierdie inligting onder mekaar mag deel ten behoewe van lede. Die fonds beoog ook om ’n nasionale databasis op te stel en te handhaaf wat op die bevolking se demografie-en-epidemiologieprofiel gebaseer is.
  1. Jy gaan by ’n sekere gesondheidsorgverskaffer moet registreer. Die wetsontwerp bepaal dat fondslede gesondheidsorg móét ontvang by die primêre gesondheidsorgverskaffer waar hulle geregistreer is. Dit kan beteken dat jy by ’n sekere huisdokter gaan moet registreer. Die aantal besoeke wat jy mag aflê, kan ook beperk word. Die fonds en minister van gesondheid sal ook die mag hê om te besluit wat die minimum vereiste reeks persoonlike gesondheidsorgdienste is.
  1. As jy nie die reëls nakom nie, gaan jy nie dekking hê nie. Gebruikers van die fonds sal verplig wees om eers gesondheidsorgdienste op primêre gesondheidsorgvlak te kry. As jy verdere gesondheidsorg – byvoorbeeld toegang tot ’n spesialis – wil hê, moet jy die voorgeskrewe verwysingsroetes volg. Indien jy dit nié doen nie, is jy nie op fondsdekking geregtig nie. Jy gaan verder ook nie direkte toegang tot spesialiste soos ginekoloë of onkoloë hê nie.
  1. ’n Reeks mediese dienste, behandelings en prosedures sal gedek word. Hierdie dienste sal gratis wees sonder enige bybetalings. Die fonds sal egter nie behandeling dek as dit nie medies noodsaaklik is nie en waar daar nie ’n kostedoeltreffende ingreep is nie. As die fonds weier om vir ’n prosedure te betaal, sal jy kan appelleer, maar daar is geen tydraamwerk hieraan gekoppel nie – die wetsontwerp skryf slegs ’n “redelike tyd” voor.
  1. Die regering sal bepaal wat mediese dienste gaan kos. Die regering sal jaarliks pryse vir spesifieke dienste vasstel. Dié pryse sal dan bepaal wat gesondheidsorgverskaffers betaal moet word.
  1. Mediese fondse gaan heel moontlik wegval. Sodra die NGV volledig geïmplementeer word, sal mediese fondse net bykomende dekking kan bied. Met ander woorde: As die gesondheidsdiens deur die NGV gedek word, sal jou mediese fonds dit nie óók kan dek nie. Die verhoogde belasting om die NGV te befonds sal mediese fondse vir die middelklas heel moontlik onbekostigbaar maak.
  1. Die staat gaan medisyne vir almal koop. Die staat sal medisyne aan alle NGV-lede verskaf.
  1. Die staat sal besluit watter dokters hul dienste onder die NGV mag bied. Daar sal ’n streng kontrak tussen die fonds en geakkrediteerde gesondheidsorgverskaffers of ‑instellings wees. Hierdie ooreenkoms sal bepaal hoeveel pasiënte hulle moet sien en hoeveel dienste hulle moet lewer. Sanksies kan teen gesondheidsorgverskaffers ingestel word as hulle nie dié ooreenkomste nakom nie en akkreditasie moet elke vyf jaar hersien word.
  1. Buitelanders gaan nie dekking hê nie. Buitelandse besoekers gaan reisversekering moet uitneem om mediese dienste van die fonds te ontvang. Onwettige immigrante en asielsoekers sal slegs vir sorg in noodgevalle kwalifiseer, maar hul kinders sal wel op basiese gesondheidsorgdienste geregtig wees.

“Al doen die regering dit voor as die gans wat die goue eiers gaan lê, is die NGV nie die antwoord op die land se gesondheidsorgprobleme nie. Gelukkig kan dit nog gestop word. Suid-Afrikaners behoort hierdie stelsel met mag en mening teen te staan en aan AfriForum hul mandaat te gee om vryemarkbeginsels te beskerm,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum.

Help AfriForum om die NVG teen te staan:
Besoek www.afriforum.co.za/afdelings/veldtogte/nasionale-gesondheidsversekering/.

Soortgelyke plasings