|

14 AUGUSTUS 2021 – DERTIG MAKLIKE MANIERE OM AFRIKAANS TE BOU EN BEHOU

Alana Bailey – Hoof van Kultuursake

Op Saterdag 14 Augustus 1875 het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl tot stand gekom. Hierdie groep het vergader om oor ’n Bybelvertaling in Afrikaans te praat. Deesdae word soms beweer dat hulle Afrikaans vir eie ambisies en gewin “gekaap” het, maar vir hierdie vrywilligers sou dit veel makliker én lonender gewees het om bloot aan te hou om Nederlands en Engels te praat, eerder as om dié taak aan te durf. In prof. J.C. Steyn se boek, Ons gaan ’n taal maak, vertel hy: “Die klein groep Afrikaners van die Paarl wat onder die leiding van ds. S.J. du Toit die taal tot skryftaal probeer verhef het, is aanvanklik bespot, gehoon en gedreig … Daar is gedreig met teer-en-veer, sambok en bedorwe eiers, pap tamaties en selfs ‘doodskiet’.”

Tog het hulle volhard en is Afrikaans een van net vier tale wat in die twintigste eeu tot volle funksionele taal, oftewel hoëfunksietaal ontwikkel het. Dit is belangrik dat Afrikaans in skole, universiteite, die regs- en besigheidswêreld in stand gehou moet word, anders gaan dit hierdie status verloor en later bloot ’n geselstaal word.

Enige mens kan op maklike en kreatiewe maniere Afrikaans bevorder. AfriForum bied ook verskeie opsies aan waardeur jy dit kan doen. Kom ons kyk na enkele voorstelle:

Gee erkenning aan ondernemings wat goeie diens lewer in Afrikaans – ’n brief in die media en aan die onderneming se bestuurder is altyd welkom.
Ondersteun hierdie ondernemings deur met hulle te skakel deur AfriForum Sakenetwerk.
Vra ondernemings wat nie Afrikaanse diens lewer nie, om dit te doen, maar vra beleefd, nie met dreigemente of ’n aanvallende houding nie. Ons wil vriende wen vir ons taal, nie mense boelie om dit te gebruik nie.
Koop Afrikaanse leesstof en musiek, of laai dit elektronies af.
Ondersteun Afrikaanse teater – kyk gereeld wat AfriForum Teater of enige ander teater in jou omgewing aanbied.
Kyk Afrikaanse programme, flieks, reekse en dokumentêre. Dapper Media het heelwat gratis aanbiedings soos Byt en Buskruit of Kaalvoethelde.
Praat suiwer Afrikaans – ons het ’n taal vol opwindende woorde en uitdrukkings. Suiwer taal hoef nie vervelig en ouderwets te klink nie.
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Maroela Media en AfriForum bied weekliks onderskeidelik “woorde van die week” en taalwenke aan wat jou kan help om jou taalgebruik te verbeter.
Ondersteun organisasies wat Afrikaans bevorder, soos natuurlik AfriForum!
Borg die vertaling van dokumente in Afrikaans waar dit nie in ons taal beskikbaar is nie – byvoorbeeld enige kontrak wat jy aangaan.
Ondersteun die skep van Afrikaanse woordeboeke – besoek wat.co.za vir meer inligting.
Besoek besienswaardighede met ’n Afrikaanse tema, soos die Taalmuseum en Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.
Begin ’n Afrikaanse leeskring.
Stuur jou kinders na ’n Afrikaanse speelgroepie, kleuterskool, laerskool en hoërskool.
Ondersteun Akademia en Sol-Tech vir tersiêre onderrig in Afrikaans.
Skryf in Afrikaans – of dit nou jou doktorstesis, kortverhaal, liefdesbrief, inkopielysie of sommer net kommentaar op sosiale media is.
Kies Afrikaanse opstellings vir jou selfoon.
Besoek gereeld Afrikaanse internet kuierplekke soos Maroela Media, ForumNuus en Wêreldwyd vir internasionale lesers.
Gee jou huis, onderneming, boot of selfs jou hond ’n Afrikaanse naam – wat sal die werf dan nou sonder Siebie, Wagter en Vleislus wees …
Leer interessante Afrikaanse woorde soos kwispedoor en paskewil se betekenis.
Gebruik ’n Afrikaanse speltoetser.
Skryf bydraes vir die Afrikaanse Wikipedia – besoek http://af.wikipedia.org/.
Leer iemand Afrikaans praat.
Versier jou huis met Afrikaanse woorde of slagspreuke.
Koop ’n Afrikaanse bordspeletjie.
Dra ’n T-hemp met ’n oorspronklike Afrikaanse slagspreuk – daar is deesdae baie ondernemings wat dit verkoop.
Bly oor in gastehuise wat spesifiek noem dat hulle in Afrikaans diens lewer.
Vra ’n Afrikaanse spyskaart wanneer jy ’n restaurant besoek.
Teken in op kanale wat daagliks Afrikaanse Bybelverse, wenke of ander opbouende boodskappe stuur.
Moet nooit verskoning vra omdat jy Afrikaans praat nie.
Die toekoms van Afrikaans is nie in ’n organisasie of politieke party se hande nie, maar in die hande van elkeen van ons wat Afrikaans praat.

Soortgelyke plasings