|

Nuuskommentaar: Is die Tshwane-metroraad se sypaadjie-prioriteite reg?

Deur Alet Rademeyer

Twee voorvalle rondom sypaadjies wat vandeesweek in die Jakarandastad afgespeel het, laat ’n mens wonder of die Tshwane-metroraad se prioriteite daarop ingestel is om tot voordeel van die stad se belastingbetalers te wees.

In die een voorval is Joe Nkuna skynbaar soos ’n misdadiger behandel omdat hy dit durf waag het groente op sy sypaadjie in Theresapark in die noorde van Pretoria te plant.

Hy plant al sedert 2019 die groente wat sy vrou, wat ’n maatskaplike werker is, aan armes uitdeel. Foto’s van die sypaadjie-groentetuin wys dat dit netjies en goed versorg is.

Dié twee situasies laat ’n mens wonder of die Tshwane-metroraad se prioriteite reg is.

Verskeie lede van die Tshwane-metropolisie het vandeesweek by sy huis opgedaag en gesê hy het ’n permit nodig om groente te plant. Hy het ’n waarskuwing gekry om die groentetuin tot niet te maak, wat hy nie nagekom het. Hy is ’n toe ’n boete van R1 500 opgelê en indien hy dit nie betaal nie, kan die petalje hom in die hof laat beland.

In die ander voorval sukkel Anton van der Bijl van Lyttelton Manor nou al twee maande dat die metro ’n sinkgat reg voor sy huis moet herstel. Dit versper sy oprit en ook ’n deel van die pad. Die sinkgat het ontstaan weens ’n munisipale waterpyp wat gebars het. Van der Bijl is bekommerd dat die situasie net gaan vererger met die reënseisoen wat binnekort begin.

Dié twee situasies laat ’n mens wonder of die Tshwane-metroraad se prioriteite reg is.

Natuurlik is daar munisipale verordeninge wat nagekom moet word. Maar ek kan regtig nie insien hoe mense vervolg kan word omdat hulle groente op hul sypaadjies plant nie. Gegewe hoe klein die stukkie grond is, is dit moeilik om te begryp hoe ’n paar koolkoppe en bossies spinasie en uie inbreek op ander mense se regte kan maak.

Mense plant in elk geval blomme of vetplante oral op hul sypaadjies in die stad. En dié einste munisipaliteit plant bome op die sypaadjies. Maar kom snoei hulle ooit die bome of verwyder dié wat besig is om omheinings om te druk? Nee. En doen hulle iets aan sypaadjies wat vervuil is van die onkruid of dié wat mini-vullisterreine geword het? Nee.

Doen jouself die moeite en kyk maar bietjie hoe van die sypaadjies lyk wat die metroraad veronderstel is om in stand te hou.

En dan dink ek nie eens aan die drama waardeur inwoners soos Van der Bijl moet gaan nie.

’n Mens kan maar nie anders as om te dink dat die metro hom graag met beuselagtighede ophou in plaas daarvan om tot diens van belastingbetalers te wees nie.

Soortgelyke plasings