|

600 mense woon AfriForum se derde kongres by

Die burgerregte-waghond AfriForum bied sy derde nasionale kongres in Warmbad aan wat deur sowat 600 takbestuurslede bygewoon word.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, het die kongres geopen.

Hy het verwys na prof. Antonie van Niekerk, filosoof, se uitlating vandeesweek dat AfriForum hom aan die gronddebat moet onttrek. Van Niekerk het ook gesê hy sien die organisasie het al hoe meer jong Afrikaanse segsmanne wat net kerm en kla.

Spies meen Van Niekerk en ander moet maar kennis neem dat AfriForum nie sal nie stilbly nie en dat daar op elke plek waar AfriForum hom bevind, hy sal sê wat gesê moet word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vertel van AfriForum se klein begin met sy eerste betoging in Potgietersrus waar ’n handjievol mense was.

“Ons by hoofkantoor sal nie vandag kan doen wat ons doen, as dit nie vir takstrukture en lede was wat op grondvlak baie hard werk nie.”

Sy boodskap vir vanjaar se kongres is #SkepSaamHoop.

Kriel het verwys na die uitdagings in die land soos die aanslag op Afrikaanse skole, haatspraak en beledigings teen minderheidsgroepe, paaie wat agteruitgaan, belastingbetalers wie se geld gesteel word, riool wat in die strate loop en swak munisipale dienste.

“Ons moet egter nie moedeloos raak nie. As mens tou opgooi word dit ’n selfvervullende professie en glo mens later dat jy niks kan doen nie. Ons gaan nie slagoffers van die geskiedenis wees nie. Ons gaan die naweek planne maak en saam dink oor hoe ons ’n beter toekoms kan skep.

“Ons kan nie toelaat om in moedeloosheid te verval nie. In ons geskiedenis was daar tye toe ons voorgeslagte baie swaar gekry het. Maar hulle het nie gaan lê nie en opgestaan. Dit is ook in ons bloed om op te staan. Ons is ook gelowiges en ons glo dat God ons help en vir hoop gee.

“Ons moet draers van hoop wees. Mense kyk na ons om oplossings vir moeilike probleme te kry. As jy hoop vir die toekoms wil hê, moet jy ’n werkbare plan hê. Die plan moet egter uitvoerbaar wees. Dit verg harde werk van ons en ons moet vasstaan en hoop praat.”

Kriel het ook AfriForum se strategie verduidelik wat neerkom op plaaslike en internasionale druk om die bestaande werklikhede in die land te beïnvloed.

“Ons glo president Donald Trump se twiet om sy minister van buitelandse sake te vra om ondersoek in te stel na die Suid-Afrikaanse regering se planne met onteiening en die krisis rondom plaasmoorde, is ’n deurbraak. Ons wil nie hê dat daar nie buitelandse beleggers na Suid-Afrika kom nie. Dit sal nie in ons of enigiemand in die land se belang wees nie. Ons poog wel om bondgenote in die buiteland te kry wat druk op die regering kan plaas om die regte te ding te doen om die ekonomie te beskerm.”

Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het in ’n video-opname, gepraat oor Cyril Ramaphosa se presidentskap. Hy meen Ramaphosa is nie in beheer van sy party nie en daar is al meer vrae oor sy groot prestasies. Dit is moeilik om te sê of hy die individu is wat die land nou nodig het om te verseker dat die ekonomie teen 5% of 6% groei soos wat nodig is. As ons nie teen dié tempo groei nie, sal Ramaphosa en sy administrasie nie aan die verwagtinge van die land se mense kan voldoen nie.

Soortgelyke plasings