| | |

AfriForum se Lichtenburg-tak gryp in tydens nasionale inperking

AfriForum se Lichtenburg-tak het 25 liter handreiniger op 1 April 2020 aan plaaslike owerhede verskaf om die COVID-19-pandemie te help beveg. Die Lichtenburgse SAPD, die Ditsobotla-verkeersdepartement, die Departemente van Gesondheid, en van Binnelandse Sake, Korrektiewe Dienste en die plaaslike rampbestuurseenheid het van dié reiniger ontvang.

“Ons Lichtenburg-tak het besluit om hierdie instellings tydens die nasionale inperking te ondersteun omdat hul kritieke dienste aan die gemeenskap lewer in die poging om die COVID-19-virus hok te slaan. Toegang tot genoeg handreiniger kan help om dié mense te beskerm en te voorkom dat die virus verder versprei,” sê Stefan Niemand, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

 

“Dit is belangrik dat ons proaktief bly ten spyte van die COVID-19-pandemie. AfriForum is deurlopend besig om strategieë en projekte te ontwikkel om by gemeenskappe se behoeftes tydens die inperking aan te pas. Ons wil graag ook die Lichtenburg-gemeenskap bedank vir elke bydrae wat hierdie inisiatief moontlik gemaak het,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Ondernemings en lede van die gemeenskap kan by die tak se inisiatiewe betrokke raak: SMS die woord “Lichtenburg” na 45351 (R1 per SMS), of skakel vir Stefan Niemand by 082 212 1588.

Soortgelyke plasings