| | |

Organisasies stig taakspan vir verspreiding van voedsel en noodsaaklike items

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai het vandag die stigting van ’n taakspan aangekondig om, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Josef Silo’s-projek, voedsel en noodsaaklike items soos handreiniger en gesigmaskers in te samel en te versprei. Hierdie voedsel en items sal aan behoeftige individue, gesinne en instansies soos onder meer kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe regoor die land versprei word. Die inisiatief sal ook dien as teenvoeter om onrus en plundery in gemeenskappe te voorkom.

AfriForum sal verantwoordelik wees om in samewerking met Saai verspreiding op grondvlak vanuit die Josef Silo’s te behartig sodat die items wat Helpende Hand verpak en voorberei so gou as moontlik by die behoeftiges uitkom.

Verskeie punte in die land waar behoeftige mense voedsel kan ontvang, is reeds geïdentifiseer, asook waar mense voedsel kan aflaai om hierdie projek te ondersteun. “Dit is egter moeilik vir mense soos boere wat ver van hierdie silo’s af woon om skenkings af te laai. Diegene wat hierdie skenkings benodig het ook nie noodwendig die vermoë om by die Josef Silo’s uit te kom nie. Daarom het AfriForum en Saai besluit om betrokke te raak om die nood te help verlig,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

Familieboere sal skenkings by die naaste Helpende Hand Silo’s aflaai en AfriForum sal verantwoordelik wees vir die mikroverspreiding van die voedsel en ander items aan behoeftiges.

“Hierdie inisiatief versterk ’n netwerk van rolspelers uit stede en die platteland om die mees behoeftige mense in dié tyd van nood te help. Deur bydraes en verspreidingsvermoë saam te snoer, is ons impak veel groter. Sommige boere wat tans ’n surplus voedsel het wat vermors gaan word, skenk dit aan dié inisiatief of versprei dit deur plaaslike strukture,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Helpende Hand se strukture is reeds gevestig en die feit dat ons hande vat met AfriForum en Saai verseker dat drie sterk instansies saamstaan om hoop te skep binne hierdie strukture. Gedurende hierdie moeilike tye is Helpende Hand se Josef Silo’s ’n reddingsboei vir talle behoeftige persone. Daar is reeds meer as 70 Josef Silo’s regoor die land gevestig. Die bedrag wat tot dusver binne die Josef Silo’s-projek ontvang is, is byna R2 miljoen en Helpende Hand kon die afgelope twee weke reeds 736 gesinne en 96 instansies soos tehuise vir bejaardes en kinderhuise van kos voorsien,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

Die organisasies doen ’n beroep op mense om, indien hulle in dié tyd van inperking goedere gaan aankoop, iets ekstra te koop en by die Josef Silo’s in hul gebied te gaan aflaai. As die inperking verby is, sal die geriewe vir ’n geruime tyd bedrywighede voortsit totdat die krisistyd verby is. Alle voorsorgmaatreëls sal getref word om die publiek se veiligheid te verseker.

Mense kan ook skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun.

Rekeninghouer:                    Solidariteit Helpende Hand
Bank:                                      FNB
Rekeningnommer:                62 331 445 503
Tak:                                         Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing:                             Korona
Swift-kode:                            FIRN ZA JJ

Besoek www.helpendehand.co.za en klik op die skakel vir maatskaplike hulp om aansoek te doen vir hulp.

Soortgelyke plasings