|

17 000 sê nee vir EFF-ANC-koalisie: AfriForum oorhandig petisie aan Tshwane-koalisievennote

Hoor die pleidooi van die inwoners! Dít is die dringende beroep wat die burgerregteorganisasie AfriForum vandag aan die Tshwane-metro se koalisievennote gerig het met die oorhandiging van ’n petisie wat deur 17 000 inwoners van dié metro onderteken is. Inwoners het deur AfriForum se Red Pretoria-petisie ’n beroep op koalisievennote gedoen om alles in die stryd te werp om die Tshwane-metro uit die hande van ’n ANC-EFF-koalisie te hou.

Die burgemeesterskomiteelid en voorsitter van die Koalisiekomitee in die Tshwane-metro, Jacqui Uys, sowel as ander verteenwoordigers van die koalisie het die petisie by die metroraad se hoofkwartier, Tshwane House, in ontvangs geneem.

AfriForum se beroep volg in reaksie op ActionSA se aankondiging dat dié party die afgelope naweek besluit het om uit die koalisie met die DA, VF Plus, ACDP en IVP te tree. Dit maak die bedreiging van ’n moontlike koalisie met die EFF en ANC nou selfs groter.

ActionSA het gister in ’n mediaverklaring aangedui dat hul besluit in openbare belang geneem is en dat die party onversetlik bly in hul strewe na doeltreffende regering op nasionale, provinsiale én munisipale vlak.

In die lig hiervan, doen AfriForum dus ’n beroep op ActionSA om dié edele strewe te bevestig en in die belang van al die stad se inwoners hul besluit om te aan die veelpartykoalisie te onttrek, te heroorweeg.

“Inwoners het met AfriForum se petisie ’n onbetwisbare standpunt téén ’n moontlike EFF-ANC-koalisie ingeneem en dit duidelik gemaak dat hulle nie kan toesien hoe die Tshwane-metro wéér die ANC se belange bo dié van die inwoners prioritiseer nie,” benadruk Ernst van Zyl, Hoof van Openbare Betrekking by AfriForum.

Volgens Van Zyl is inwoners se vrese nie ongegrond nie en het Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, dit verlede week duidelik gemaak dat ’n nuwe koalisie in die Tshwane-metro “die belange van die ANC en die mense moet dien”. Dit laat geen twyfel nie oor waar die prioriteite in ’n ANC-EFF-koalisie gaan lê, waarsku Van Zyl.

Hy maan voorts dat partye wat hul by die EFF skaar, hulself moet skaam. “Dit is verregaande dat ’n party soos die EFF, wat die oppergesag van die reg ondermyn, onmin saai en selfs tydens ’n onlangse raadsvergadering gesê het hulle wil ’n ‘Boer m**r’, nou moontlik deel van ’n nuwe munisipale regering kan word,” sluit Van Zyl af.

Besoek www.redpretoria.co.za en voeg jou naam by die petisie om te verseker dat alle twyfel oor inwoners se standpunt rakende ’n ANC-EFF-koalisie uit die weg geruim kan word.

Soortgelyke plasings