|

5 000 siviele ingenieurs gereed om veiligheidstandaarde van damme te verseker

AfriForum doen ’n beroep op Pemmy Majodina, minister van Water en Sanitasie, om dringend saam met meer as 5 000 geregistreerde siviele ingenieurs te werk wat in die Suid-Afrikaanse waterinfrastruktuursektor werksaam is. Dít volg nadat dit vandeesweek aan die lig gekom het dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) nie genoeg inspekteurs het om te verseker dat veiligheidstandaarde by nagenoeg 6 000 damme nagekom word nie. Hierdie damme word tans as veiligheidsrisiko’s beskou.

Majodina het hierdie syfers onthul in reaksie op ’n vraag van die parlementêre portefeuljekomitee oor water en sanitasie. Volgens AfriForum is daar duisende ingenieurs reg oor die land wat deur middel van professionele liggame deur DWS bereik kan word. Hierdie kosbare ingenieursvaardighede en kennis gaan egter op hierdie stadium verlore weens die departement se beperkende verkrygingspraktyke. Tans word kontrakte slegs aan ingenieursfirmas toegeken in plaas daarvan om geregistreerde, professionele ingenieurs individueel te betrek.

AfriForum beklemtoon dat ingryping vanuit die privaatsektor nou meer nodig as ooit is om verdere agteruitgang van openbare infrastruktuur en katastrofes soos die onlangse ineenstorting van drie damme op ’n plaas in Riverlands naby Malmesbury, te verhoed.

Die DWS meen dat die ineenstorting te wyte is aan die dameienaar se nie-nakoming van wetlike veiligheidstandaarde, maar volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, onthul dit eintlik DWS se stremmende tekort aan bevoegde en professionele tegniese personeel.

“Die toestand van infrastruktuur wat behoorlik en volgens standaard gebou is, verswak nie oornag nie, maar met verwaarlosing bereik dit mettertyd ’n kantelpunt waarna dit spoedig – en moontlik katastrofies – agteruit gaan. Dit vereis egter behoorlike monitering om nie-nakoming te bespeur en die DWS het eenvoudig nie die kapasiteit om as ’n doeltreffende reguleerder op te tree nie,” sluit De Vaal af. 

Soortgelyke plasings