|

AfriForum eis Emthanjeni-munisipaliteit om watertekorte dringend op te los

AfriForum doen ’n beroep op die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit om dringend by die waterkrisis in De Aar, Hanover en Britstown in te gryp. Dié Noord-Kaapse dorpe gaan al vir maande gebuk onder ernstige watertekorte.

In ’n brief van AfriForum word die Emthanjeni-munisipaliteit versoek om die organisasie van ’n aksieplan te voorsien van hoe die munisipaliteit die watertekorte gaan oplos. Dié brief is vandag (18 September) aan die munisipaliteit gestuur. AfriForum maan ook die munisipaliteit om al sy waterpunte van water te voorsien om verligting aan die gemeenskap te bring.

Die gebrek aan water in De Aar, Hanover en Britstown hou ’n groot gesondheidsrisiko in en toegang tot skoon water is ’n grondwetlike mensereg. Volgens AfriForum is die watertekorte die gevolg van swak instandhouding en die munisipaliteit se onwilligheid om hul pligte teenoor die gemeenskap na te kom.

Nadat Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, ondersoek ingestel het, is bepaal dat die munisipaliteit 59 boorgate het maar dat daar bykans geen meer waterpompe en pyplyne is wat werk nie.

“De Aar is die derde grootse dorp in die Noord-Kaap en met die somer op pad gaan daar definitief ’n ernstige tekort aan drinkwater vir die gemeenskap wees,” sê Strauss.

AfriForum is meer as bereid om die Emthanjeni-munisipaliteit te help ​​en versoek ’n vergadering met die munisipaliteit om die saak verder te bespreek.

Die munisipaliteit het tot en met 25 September om op AfriForum se brief te reageer. Indien geen terugvoer teen dan ontvang is nie, sal verdere stappe oorweeg word.

Soortgelyke plasings