|

Zeerust-tak plant tientalle bome vir toekomstige generasies

Die AfriForum-tak in Zeerust het vandeesmaand hom beywer om soveel moontlik bome in die gebied te plant en waar moontlik bome te skenk aan diegene wat self ’n boom of twee wou plant. Die tak het in totaal 28 bome self geplant en ’n verdere 46 aan skole in die omgewing geskenk. Al die bome was óf karee- óf sitrusbome.

Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, sê die Zeerust-tak het bome by verskeie openbare ruimtes geplant sodat die hele gemeenskap eendag die skadu van die bome kan geniet. Altesaam nege bome is by die Zeerust Gholfklub geplant en drie by die Burgermonument, ’n terrein wat hierdie AfriForum-tak maandeliks instandhou. Nóg drie bome is by die Drie Varkies Kleuterskool geplant, 12 by Marico Bosveld Akademie en ’n boom is selfs by die plaaslike  polisiestasie geplant. Uit die 46 bome wat die tak aan die gemeenskap geskenk het, het vyf by Zeerust Primary wortel geskiet, 20 by Hoërskool Zeerust en 21 by Laerskool Zeerust.

“Die Zeerust-tak fokus nie net daarop om belangrike erfenisgebiede soos die Burgermonument skoon en netjies te hou nie, maar om ook by te dra tot die omgewing en natuurskoon deur bome te plant. Hierdie bome simboliseer hoop vir ons nageslagte se toekoms, wat soos hierdie bome sal voortleef en floreer,” sê Chané Kruger, jeugleier van AfriForum se Zeerust-tak.

AfriForum se verbintenis om honderde bome landwyd te plant vestig gemeenskappe se aandag daarop dat selfdoen die enigste volhoubaar toekoms sal kweek. “Deur bome te plant dra ons by tot ’n gesonder omgewing vir toekomstige generasies,” sê Viljoen.

AfriForum wil ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig inwoners aan om by die Zeerust-tak betrokke te raak. Sluit vandag nog aan deur Pierre van der Walt van die Zeerust-tak by 082 569 8564 te skakel of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings