|

AfriForum-tak plant talle bome by Keimoes-skole

Dele van die Noord-Kaap is behoorlik groen van jaloesie nadat AfriForum se Keimoes-tak met die aanvang van lente talle bome op die dorp geplant het. Die tak het altesaam 16 bome by Loxtonvale Primêre Skool en by Keimoes Akademie geplant. Dié bome bestaan uit 11 witkaree-bome, drie olienhoutbome en twee wilgerbome.

Die skoliere en onderwysers het hand bygesit en gehelp om die bome te plant. Die tak het ook vir die skoliere verduidelik hoe noodsaaklik dit is om ’n boom vir die volgende generasie te plant.

“Dis belangrik om met die aanvang van lente ’n nuwe begin te vier en dis presies wat met hierdie boomplantprojek beoog word. AfriForum veg en bou vir die toekoms van Suid-Afrika en om vanjaar net een boom te plant gee vir die gemeenskap hoop vir daardie toekoms,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Die tak het ook die watergehalte in die gebied getoets om seker te maak dat die water wat aan inwoners voorsien word van ’n goeie gehalte en op standaard is. Water is by die uitloop van die rioolwerke en die kanaal getoets. Die algemene drinkwater is ook getoets en AfriForum wag nou op die resultate hiervan.

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings