Olienhout,olienhoutboom
|

AfriForum-takke verfraai Risiville-parkie in Vereeniging met bome en opknapping van speelapparaat

AfriForum se Vereeniging-tak het op 14 September in samewerking met AfriForum se Midvaal-tak 35 bome in Risiville geplant as deel van die organisasie se jaarlikse boomplantmaand in September. Hierdie inisiatief het ’n sterk boodskap van samewerking en gemeenskapsgees uitgestuur.

Inheemse bome, waaronder karee (Searsia penduline), olienhout (Olea europaea) en waterhout (Ilex mitis), is in die Risieville-parkie in Steynlaan geplant om die plaaslike ekosisteem te ondersteun en die omgewing te verfraai. Die vrywilligers het beloof om na die bome om te sien totdat die reënseisoen aanbreek.

Tydens die aksie is daar ook aandag gegee aan die speelapparaat wat die verf en herstel van klimrame, rondomtalies en swaaie in die parkie ingesluit het. Hierdie opknappingswerk het die speelarea weer veilig en aanloklik gemaak vir kinders en gesinne om te geniet. Die toewyding van die vrywilligers om hul tyd en energie aan hierdie projekte af te staan, weerspieël AfriForum se verbintenis tot die beginsel van selfdoen en die verbetering van die omgewing deur gemeenskappe se aktiewe deelname.

Verder het AfriForum se tak in Vereeniging ook op 14 September 260 sakke teer aan die NG kerk Arcon Park geskenk om die aaklige pad voor dié kerk te herstel. AfriForum-lede het in samewerking met die kerk hul hande vuilgemaak om die slaggate te herstel. Hierdie poging het nie net motoriste se veiligheid op dié pad verhoog nie, maar ook toegang tot die kerk se perseel vergemaklik.

Volgens Innes Erasmus, voorsitter van AfriForum se Vereeniging-tak, het die samewerking tussen die Vereeniging- en Midvaal-takke gewys hoe kragtig gemeenskapsamewerking kan wees. “Deur saam te werk, het hulle ’n groter impak gemaak en ’n voorbeeld gestel van hoe gemeenskappe self kan optree om hul omgewing te verbeter. Dankie aan almal wat die dag met die aksies uitgehelp het,” sluit Erasmus af.

Om deel te word van die oplossing, stuur ’n epos aan vereeniging@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings