|

NERSA nader Appèlhof om uitspraak oor kragtariewe om te keer, AfriForum gereed om enduit te veg

AfriForum het gister amptelike kennisgewing ontvang van die Nasionale Engergiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se besluit om hul nou tot die Hoogste Hof van Appèl te wend in die kragtariefsaak rakende die reguleerder se implementering van onregmatige en ongeldige kragtariefverhogings aan minstens 100 munisipaliteite. Die burgerregteorganisasie staan egter slaggereed om dié aansoek, in die belang van miljoene kragverbruikers in munisipaliteite oor die hele land heen, te opponeer. 

Luidens die stukke wat aan AfriForum gelewer is, wil NERSA appelleer teen die uitspraak wat op 28 Junie vanjaar in die Gautengse hooggeregshof gelewer is, en waarop aansoek om verlof tot appèl op 19 Augustus van die hand gewys is. In dié hofgeding wat AfriForum teen die energiereguleerder aanhangig gemaak het, het die hof in AfriForum se guns beslis en bevind dat NERSA se mislukking om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig én ongeldig is. Die hof het voorts bepaal dat alle munisipaliteite wat nie die nodige studies ingehandig het nie, se 2023/2024-kragtariewe heringestel moet word.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, is die jongste stap van NERSA uiters teleurstellend. “Die reguleerder het meer as een en ’n half jaar kans gehad om die metodiek rakende kostestudies te implementeer. Hulle het gefaal om dit suksesvol te implementeer en nou faal hulle nie net kragverbruikers nie, maar misluk ook daarin om aan hul missiestelling te voldoen. Hoewel aangevoer word dat NERSA ten doel het om die ‘energiebedryf in ooreenstemming met regeringswette en beleide’ te reguleer, is dit duidelik dat wetgewing en hofbeslissings in hul boeke nie veel gewig dra nie,” verduidelik Mostert.

Die inhandiging van kostestudies is ’n vereiste komponent van munisipaliteite se aansoeke om tariefverhogings wat deur die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006 voorgeskryf word, benadruk Mostert. Hy sê voorts dat kostestudies van kritieke belang in die bepaling van kragtariewe is, omdat dit ’n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer en netwerke in stand te hou.

Dié voorskrifte is juis daar om die volhoubaarheid van kragvoorsiening in munisipaliteite te verseker en om onbillike verhogings ten koste van verbruikers te verhoed.

“Dié voorskrifte is juis daar om die volhoubaarheid van kragvoorsiening in munisipaliteite te verseker en om onbillike verhogings ten koste van verbruikers te verhoed. NERSA se naarstiglike pogings om juis hierdie onregmatige en ongeldige tariefverhogings te laat implementeer, toon dat die reguleerder hom bo die reg ag. Daar is in die verloop van ons hofgeding reeds bewys dat die howe met ons eens is – daar is géén ander uitweg nie – NERSA moet eenvoudig gehoor gee aan die wet en hofuitsprake, en verhogings wat onregmatig ingestel is, skrap,” sluit Mostert af.

AfriForum gaan intussen met sy regspan konsulteer om alle moontlike remedies wat in die tussentyd in hierdie verband geïmplementeer kan word, te ondersoek.

Soortgelyke plasings