|

AfriForum en Matteus bemagtig leerders van die Paarl met teenboelieveldtog

Die burgerregteorganisasie, AfriForum se teenboelieveldtogspan en die gelukbringer, Matteus in samewerking met AfriForum se Paarl-tak het by verskeie laerskole in die Paarl besoek afgelê. Hierdie skole sluit in Laerskool Slot van die Paarl, Family Tree Leadership Academy en Laerskool Paarl Boys.

AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van die volle wapenrusting van God, het by die leerders aanslag gevind. “Veilige skole bou veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en te stop,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir Onderwys by AfriForum.

Leandie Bräsler, gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum, het bygevoeg: “Vir sewe jaar reeds bemagtig ons skole landwyd met hierdie veldtog. Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe.”

Volgens ’n studie gepubliseer in BMC Research Notes, is die syfer van laerskoolslagoffers wat onder boeliery gebuk gaan in Suid-Afrika ontstellend hoog. Die studie het bevind dat 58% van leerders op een of ander manier met boeliegedrag te make het. Die statistieke is skrikwekkend wat laer-en hoërskoolleerders insluit:

  • Meer as 3.2 miljoen leerders word jaarliks geboelie in Suid-Afrika.
  • Meer as 67% van boelieslagoffers vra nie vir ’n onderwyser om hulp nie, omdat hulle nie dink dit sal hul situasie verander nie of hulle is bang dat dit die situasie kan vererger.
  • Een uit 10 leerders verlaat die skool om boeliegedrag te vermy.
  • 160 000 hoërskoolleerders bank daagliks skool om boeliegedrag te vermy.
  • 90% van boeliegedrag by skole word deur leerders uitgevoer.

Boelies verkry mag deur hul slagoffers geïsoleerd en magteloos te laat voel, maar kinders kan terugveg deur saam met vriende en ondersteunende volwassenes op te tree. Dit is belangrik dat kinders, ouers en skole proaktief optree deur dat kinders bewustheid skep deur vir volwassenes te vertel wat aangaan, aangesien boelies dikwels subtiele en sosiaal aanvaarbare vorme van aggressie gebruik wat volwassenes miskyk.

Kinders moet ook verstaan dat wanneer hulle vir ’n volwassene vertel wat gebeur het, dit nie as skinderstories gesien word nie, maar eerder ’n manier om die magsbalans te herstel. Hoe vinniger kinders teen boelies optree, hoe beter, aangesien die aggressie van die boelies kan eskaleer as dit nie uitgeklaar word nie.

Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings