|

AfriForum bemagtig leerders van Laerskool Balmoral met teenboelieveldtog

Die burgerregteorganisasie, AfriForum se teenboelieveldtogspan en die gelukbringer, Matteus het onlangs by Laerskool Balmoral in Bronkhorstspruit besoek afgelê om bewusmaking oor boeliegedrag te skep.

AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van die “volle wapenrusting van God”, het diep by die leerders inslag gevind. “Veilige skole bou veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en te stop,” het Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum, gesê.

Leandie Bräsler, gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum, het bygevoeg: “Vir sewe jaar reeds bemagtig ons skole landwyd met hierdie veldtog. Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe.”

“Dit is baie belangrik om kinders daarvan bewus te maak dat boeliegedrag nie aanvaarbaar is in alle sfere en ouderdomme van die samelewing nie. Boelies moet identifiseer word en die kind wat geboelie word, moet beskerm word en moet gemaklik voel om dit ook te kan rapporteer. Met die nodige bewusmaking behoort boeliegedrag af te neem,” meen Magda Lewis, takvoorsitter van AfriForum se  Bronkhorstspruit-tak.

Skoolgeweld en afknouery kan ‘n invloed op enige kind hê. een van die vernaamste faktore wat van kinders en adolessente ‘n teiken van afknouery maak, is as hulle as “anders” beskou word. Voorbeelde van andersheid is kinders wat wees gelaat word, kinders met gestremdhede, sosiale status wat met etnisiteit geassosieer word, kinders in huishoudings waar MIV/ Vigs, armoede en kulturele en taalverskille voorkom, asook kinders wat aan migrasie of verplasing blootgestel word. Volgens ‘n Unesco-verslag15 is fisiese voorkoms ook ‘n risiko vir kinders of adolessente om ‘n teiken van afknouery te word, soos byvoorbeeld om oorgewig of selfs ondergewig te wees

Boeliery kan verskeie vorme aanneem, naamlik:

  • Fisies (skop, slaan of boks);
  • Verbaal (noem kinders name, dryf die spot met hulle of maak dreigemente);
  • emosioneel (sosiale uitsluiting, intimidasie deur gebare of dreigemente);
  • Seksueel; en
  • Kuberafknouery (deur die internet op sosiale media soos Facebook; of deur selfone met haatboodskappe of afdreiging).

Waarskuwingstekens van afknouery sluit die volgende in:

  • Onverklaarbare beserings soos kneusplekke, snye en krapmerke;
  • Vrees om skool toe te gaan, om skool toe te ry met die skoolbus, of om skool toe of huis toe te loop;
  • Ongewillig om skool toe te gaan;
  • Veranderinge in slaappatrone;
  • Akademiese punte wat daal;
  • Verskonings oor hoekom hulle nie skool toe kan gaan nie;
  • Verlies aan eetlus of verandering in eetgewoontes;
  • Vernielde of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle; of
  • Gereelde klagtes oor maagpyn, hoofpyn, naarheid of dat hy siek voel1

Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings