|

Oorweldigende steun teen Bela-wet groei steeds: AfriForum-petisie nou verby 200 000 kerf

AfriForum se Stop Bela-petisie (www.stopbela.co.za) teen die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys 32 van 2024 groei steeds. ’n Dag nadat die 150 000 kerf verbygesteek is, het die aantal ondertekenaars tot meer as 200 000 gestyg. Dit is ’n duidelike bewys van die publiek se sterk teenstand teen hierdie wet met sy verskeie ondeurdagte en gevaarlike bepalings.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit duidelik dat die publiek baie ernstig teen die wet se aanslag teen Afrikaanse skole en kinders is. Hulle besef ook dat die implementering daarvan ’n ernstige bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig en moedertaalonderrig oor die algemeen in die land sal inhou.

Nadat AfriForum en Solidariteit in gesprek met president Cyril Ramaphosa was, is ’n taktiese deurbraak reeds behaal in die stryd, toe Ramaphosa tydens ondertekening van die wet Vrydag (13 September 2024) aangekondig het dat die gewraakte artikels 4 en 5 daarvan wat oor skole se toelatings- en taalbeleide gaan, nie dadelik geïmplementeer sal word nie. Dit sal naamlik vir ’n verdere drie maande vir gesprekvoering oopgestel word. AfriForum beklemtoon dat dié sukses ’n bewys daarvan is dat openbare druk sukses kán behaal.

“Swak onderwys is die vinnigste pad na ekonomiese rampspoed en ons kinders het reeds met té veel uitdagings te make. Bela se bepalings gaan die situasie eerder vererger as verbeter. AfriForum doen daarom weer ’n beroep op enigeen wat nog nie die petisie ondersteun het nie, om dit wel te onderteken. Die negatiewe gevolge wat die wet mag inhou sal nie net ouers en onderwysers raak nie, maar alle inwoners van die land. Elke ondertekenaar help AfriForum dus om ’n selfs nóg sterker onderhandelingsposisie te behaal. Die petisie is beskikbaar by www.stopbela.co.za.”

Soortgelyke plasings