|

Op Erfenisdag vra AfriForum: Beskerm jóú erfenis – staan Bela-wet teen!

AfriForum beskou die viering van Erfenisdag terwyl die wolk van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys 32 van 2024 (die Bela-wet) oor Afrikaanse skole en dus die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe hang, as ironies. Dié wet hou die ernstigste bedreiging vir erfenis in die land tot op hede in, wat vrae laat ontstaan oor die betekenis van enige amptelike vierings oor erfenis. Die organisasie doen daarom ’n dringende beroep op die publiek om die twee artikels daarvan wat vir die volgende drie maande nog vir bespreking beskikbaar is, so sterk as moontlik teen te staan.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die sleutelelement van erfenis in die land, gemeenskappe se moedertaal. “Taal is die draer van elke gemeenskap se erfenis en kultuur. Wanneer ’n taal verdwyn, verdwyn die hele erfenisskat wat daarmee saamhang, asook uiteindelik die kultuurgemeenskap self. Skole is kultuurgemeenskappe se hart en sonder moedertaalonderrig stagneer en sterf tale. Om dié rede is dit noodsaaklik dat enige optrede of wetgewing wat taaloordrag bedreig, beveg moet word,” sê sy.

AfriForum meen dit is verblydend dat die meerderheid landsburgers  wedersydse erkenning en respek tussen kultuurgemeenskappe wil bevorder en kulturele verskeidenheid koester, maar is dit ook weersinwekkend dat daar ’n groep anti-Afrikaanse ideoloë soos Panyaza Lesufi en sy aanhangers is wat dit reeds duidelik gemaak het dat hulle daarop uit is om Afrikaanse skole, en gevolglike Afrikaanse kinders en -gemeenskappe, te teiken.

Die taktiese deurbraak wat behaal is toe president Cyril Ramaphosa tydens die ondertekening van die Bela-wet aangekondig het dat die gewraakte artikels 4 en 5 daarvan, wat oor skole se toelatings- en taalbeleide gaan, nie dadelik geïmplementeer sal word nie, skep ’n geleentheid vir die publiek om nog hulle stemme daarteen te laat hoor. Die oorweldigende steun wat AfriForum se petisie reeds in dié verband behaal het, met meer as 212 000 mense wat dit onderteken het, bewys hoe sterk die publiek oor die saak voel.

Terwyl AfriForum sal veg vir die voortbestaan van Afrikaanse gemeenskappe, sal die organisasie ook sy poging versnel om samewerkingsooreenkomste met ander kultuurgemeenskappe te sluit en gesamentlike projekte onderneem, soos wat reeds gebeur deur die samewerking met onder meer gemeenskappe soos die Seleka Barolong en AmaBhele. “Moedertaalonderrig moet vir alle gemeenskappe in die land beskikbaar wees en as die Bela-wet in sy huidige formaat geïmplementeer word, sal dit die kans dat ’n groter aanbod van onderrig in eie tale sal ontstaan, feitlik onmoontlik maak,” voeg sy by.

AfriForum doen ’n beroep op enigeen wat nog nie die petisie teen die Bela-wet ondersteun het nie, om dit te onderteken. Elke ondersteuner help AfriForum om ’n selfs nóg sterker onderhandelingsposisie te behaal. Die petisie is beskikbaar by www.stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings