|

Vaalharts-buurtwag fnuik inbrekers se planne

Danksy die flink optrede van AfriForum se Vaalharts-buurtwag is daar een minder gesteelde vragmotor in Hartswater. ’n Lid van hierdie buurtwag het op 2 September om 07:40 drie verdagte individue opgemerk wat by ’n vragmotor probeer inbreek het. Die vragmotor was agter die Shoprite-winkelkompleks in Hartswater parkeer waar die bestuurder besig was om voorraad af te laai. In ’n poging om die vermeende inbrekers af te skrik het die buurtwaglid met sy voertuig op die verdagtes afgepeil. Die mans het op die vlug geslaan, maar die buurtwaglid het hulle tot by ’n minibus-taxistaanplek agternagesit.

Die vermeende inbrekers kon egter nie deur die buurtwaglid aangekeer word nie, aangesien die buurtwaglid met geweld gedreig is en met klippe bestook is. Hy is eindelik uit die taxistaanplek verdryf. “Talle vermeende misdadigers skuil gereeld by die plaaslike minibustaxi-staanplek in Hartswater nadat hulle misdade gepleeg het. Die AfriForum-buurtwag in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is gedurig besig om die polisie aan te moedig om aktief die gebied te polisieer.”

Die buurtwaglid wat die voorval opgemerk het, is een van meer as 220 AfriForum-buurtwaglede landwyd wat gespesialiseerde opleiding ontvang juis vir situasies soos dié. AfriForum se protospanopleiding stel buurtwaglede in staat om mesaanvalle af te weer, ’n handwapen af te vat, burgerlike arrestasies uit te voer en ’n persoon vir wapens te deursoek.

“AfriForum se protospanopleiding het geweldig baie gehelp om meer oplettend te wees om moontlike misdade raak te sien,” sê die Vaalharts-buurtwaglid. “Hierdie voorval is weereens ’n bewys dat gemeenskapslede met goeie opleiding tesame met die regte ingesteldheid nodig is om misdaad teen te werk,” sê hy.

Die Vaalharts-buurtwag het ook onlangs ’n operasie saam met die plaaslike polisie uitgevoer waartydens talle kwaaddoeners wat op die strate van Hartswater slaap, voorgekeer is. Daar was geen arrestasies uitgevoer nie maar daar was beslag gelê op talle gereedskap wat algemeen gebruik word by inbrake.

“Hierdie soort vreedsame operasies is histories baie effektief om die misdaadsyfers in die gebied te verlaag,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder van die Karoo. “Meer van hierdie operasies word reeds vir die toekoms beplan met die addisionele fokus om meer gemeenskapsorganisasies en veiligheidsrolspelers te betrek. Misdaad raak almal in ’n gemeenskap, maar saam kan Hartswater in ’n veiliger dorp omskep word.”

Soortgelyke plasings