|

Lewenslange vonnis ná man vrou met MIV besmet

’n Jare lange stryd vir geregtigheid het gister in die Pretoria-landdroshof tot ’n einde gekom nadat landdros Fikiswa Ntlati vir Leon Santos Conga, voormalige Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) spesiale magte operateur, lewenslank gevonnis het vir verkragting en poging tot moord.

Antoinette Ndishishi, wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2018 om hulp genader het, het gister ná die uitspraak gesê sy is verheug om ná sewe jaar uiteindelik geregtigheid te kry nadat sy onwetend met MIV besmet is.

Conga en Ndishishi was van Desember 2016 tot April 2017 in ’n verhouding. Conga het tydens hul verhouding nie sy MIV-status aan Ndishishi verklaar nie en ontken dat hy MIV-positief is.

Ndishishi het tydens die uitgerekte saak getuig dat sy MIV-negatief was voor hulle verhouding. Sy moes as deel van die SANW se standaardprosedure om mediese geskiktheid te bepaal in Augustus 2016 ’n MIV-toets ondergaan en het ook op 1 Desember 2016 as deel van die SANW se bewusmaking van Wêreldvigsdag vir MIV getoets – albei uitslae was negatief.

Sy het ook getuig dat Conga tydens seksuele omgang die kondoom sou verwyder, ten spyte van die feit dat hulle op daardie geleenthede ooreengekom het dat hulle slegs omgang sou hê as hy ’n kondoom dra. Hy het haar verskeie kere verseker dat hy MIV-negatief is.

Ndishishi het egter in April 2017 positief getoets.

Voor AfriForum se privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid is die saak teen Conga twee maal teruggetrek aangesien die SANW geweier het om Conga se mediese verslae bekend te maak.

Die privaatvervolgingseenheid het die SANW gedwing om Conga se verslae te verskaf wat bewys het dat hy reeds sedert 2007 bewus was dat hy MIV-positief is. Sonder die eenheid se volgehoue druk op die SANW sou daar nie genoeg bewyse in die dossier gewees het sodat die beskuldigde uiteindelik vervolg kon word nie.

Conga het in Maart 2022 onskuldig gepleit op die klagtes teen hom. Ntlati het Conga egter in Junie vanjaar skuldig bevind aan verkragting en poging tot moord aangesien Ndishishi slegs tot seksuele omgang ingestem het omdat Conga gesê het dat hy MIV-negatief is.

Ntlati het onder meer tydens die vonnisoplegging gesê dat sy nie ’n rede sien om Conga nie die voorgestelde minimum vonnis van lewenslange gevangenis op te lê nie. Sy het verder beklemtoon dat hierdie ’n baie ernstige oortreding is wat verwoestende gevolge vir die slagoffer en haar familie berokken het. Volgens Ntlati moet Ndishishi nou vir die res van haar lewe met die stigma van MIV leef, dít terwyl die beskuldigde steeds geen berou vir sy oortreding toon nie.

Ndishishi het die privaatvervolgingseenheid bedank vir hul toetrede en monitering van die saak op elke vlak, maar sy is veral verlig dat die saak uiteindelik tot ’n einde gekom het.

Volgens haar was hierdie nie ’n maklike saak nie, maar sy sê ander slagoffers moenie bang wees nie. “Staan sterk, want as jy die waarheid praat, kan niks verkeerd gaan nie. Conga het homself telkemale weerspreek terwyl ek by die waarheid gehou het.”

Slang Maangwale, ’n ondersoeker by die privaatvervolgingseenheid, het elke hofverskyning bygewoon om vir Ndishishi te ondersteun en om te verseker dat geregtigheid geskied. Volgens hom het Ntlati ’n goeie vonnis gelewer wat ’n duidelike boodskap stuur.

“Ndishishi het ongelooflike vasberadenheid gewys om haar stem te laat hoor en te verseker dat geregtigheid vir haar geskied. Dit is egter ’n voorbeeld van hoe hard vroue binne die strafregstelsel moet veg om oortreders in sake van geslagsgebaseerde geweld tot verantwoording te bring. Ons bly teleurgesteld in die SANW vir hul versuim om een van hul eie vroulike lede by te staan in hierdie saak. Die privaatvervolgingseenheid sal egter voortgaan om slagoffers van misdaad te ondersteun,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

*Hooffoto: Slang Maangwale, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid en Antoinette Ndishishi.

Soortgelyke plasings