| |

Alfa-buurtwag en ander rolspelers snoer kragte saam om vrou te red

Die belangrikheid van samewerking tussen gemeenskapstrukture om die publiek se veiligheid en welstand te verseker is onlangs op ’n doodgewone Sondag in Vermont bewys. Op 15 September om 15:44 het ’n lid van die AfriForum Alfa-buurtwag ’n noodroep op ’n WhatsApp-veiligheidsgroep opgemerk. ’n Vrou in die gebied het dringend mediese bystand benodig, maar die eiendom waar sy haarself bevind het, was ontoeganklik weens ’n gemotoriseerde skuifhek en ’n geslote veiligheidshek wat sy nie in staat was om oop te sluit nie. Hierdie situasie het vinnige en gekoördineerde optrede deur verskeie veiligheidsrolspelers genoodsaak om die welstand van die individu te verseker.

Die AfriForum-buurtwaglid het nie tyd gemors nie en dadelik Critical Medical Care (CMC) ambulansdienste gekontak voordat hy na die toneel gehaas het. Met sy aankoms op die toneel het die lid toerusting gebruik om die slot van die veiligheidshek oop te breek sodat die ambulanspersoneel vinnig toegang tot die eiendom kon verkry. Ander veiligheidsrolspelers soos Onrus Vermont Special Rating Area (OVSRA), die Overstrand Plaaslike Munisipaliteit en Fidelity ADT het ook op die noodroep gereageer en bystand gebied.

Die eienaar van die huis is eindelik in haar bed opgespoor en onmiddellik na die naaste hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die vrou het haar dank uitgespreek teenoor die Alfa-buurtwag wat vinnig tot haar redding gekom het.

AfriForum se Alfa-buurtwag het ook vroeër vandeesmaand broodnodige ondersteuning aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gebied ná ’n ontstellende aanval op ’n bejaarde egpaar. Dié buurtwag en ander veiligheidsrolspelers was gou op die toneel van die aanval en het die SAPD gehelp om die gebied vir leidrade te fynkam.

“Hierdie voorvalle dien as ’n treffende herinnering dat sterk verhoudings tussen gemeenskapsveiligheidstrukture, wetstoepassingsowerhede en noodreaksiedienste fundamenteel is om die veiligheid en welstand van alle gemeenskapslede te verseker,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland. “Dit dien ook as ’n bewys van die krag van gemeenskapsamewerking en die impak wat dit kan hê om individue in tye van nood te beskerm.”

Raak vandag nog by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke om ’n wesenlike verskil in die gebied teweeg te bring. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings