|

AfriForum plaas Metsimaholo op terme oor Wonderfontein-ontwikkeling

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit op terme te plaas oor die ontwikkeling wat plaasvind by Wonderfontein. Dit volg ná AfriForum in Augustus vanjaar die munisipaliteit se planne vir die ontwikkeling soos dit deur die tribunaal voorgeskryf is aangevra, maar die munisipaliteit het nie gehoor gegee aan die versoek nie.

Dié ontwikkeling wat in uitbreidings 74, 75, 76, 77, 78 en 79 onderneem word, is deel van die Sasolburg-dorpsbeplanningskema wat op 17 Oktober 2019 deur die Metsimaholo-dorpsbeplanningstribunaal goedgekeur is. Die ontwikkeling is egter afgeskop voordat daar aan al die voorwaardes wat die tribunaal daargestel het, voldoen is.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, het die munisipaliteit hul bloot nie gesteur aan die vereistes wat deur hul eie tribunaal daargestel is nie en steeds voortgegaan met die ontwikkeling. “Die munisipaliteit kom nie hul eie reëls en regulasies na nie en daarom is ons genoodsaak om regstappe teen die munisipaliteit te doen indien hulle sou voortgaan. Die impak op die gemeenskap indien die ontwikkeling voortgaan sonder die nakoming van die uiteengesette vereistes is astronomies en sal die gemeenskap sowel as die omgewing benadeel.”

“Ons is vas oortuig dat die munisipaliteit nie oor die nodige planne beskik soos vereis nie. Ten einde te voldoen aan die vereistes beteken dit dat daar miljoene rande se uitgawes aangegaan moet word voordat die ontwikkeling kan begin en die regering het nie daardie fondse beskikbaar nie. Die munisipaliteit het wel in ’n vergadering aan ons verduidelik dat hul wel planne het, maar ons kon nog niks op swart en wit kry nie.”

Vereistes waaraan voldoen moet word sluit onder meer in die:

  • konsolidasie van erwe soos uiteengesit deur die Wet op Ruimtelike Beplanning van  en Grondgebruikbestuur 16 van 2013;
  • opknapping van die padnetwerk en infrastruktuur soos uiteengesit in die verkeersimpakstudie;
  • aanstelling van ’n onafhanklike kontrakteur om ’n volledige infrastruktuurassessering te doen;
  • ontwerp en bou van ’n nuwe rioolaanleg om genoegsame riolering vir die ontwikkeling te bied;
  • bou en ontwerp van voldoende stormwaterstelsels; en
  • voorlegging van voorlopige ontwerpplanne van die huise wat gebou gaan word in die dorpontwikkelingsgebied (dié planne moet binne ses maande vanaf die goedkeuring van die ontwikkeling ingedien word).

“Die grootste bekommernis is dat die ontwikkeling gaan plaasvind sonder om te voldoen aan die uiteengesette vereistes wat sal veroorsaak dat nog meer rou riool in die Vaalrivier gaan stroom wat alreeds ’n omgewingsramp is. Verder gaan daar nie voldoende water wees om die ontwikkeling te voorsien van skoon drinkwater nie. Indien die ontwikkeling halfpad gebeur en dan ewe skielik gestop word weens al die kwessies wat nie in plek is nie, los dit die area oop vir grondgrype en -besetting wat dan op die beurt ’n groot veiligheidsrisiko inhou vir die gemeenskap. Om al hierdie redes is dit belangrik vir ons om te sorg dat die ontwikkeling op regte wyse geskied en al die nodige planne in plek is,” sluit Grobbelaar af.

Indien die Metsimaholo-munisipaliteit nie die nodige planne voorsien teen Donderdag 3 Oktober nie sal die organisasie homself tot die hof wend om te verseker dat die ontwikkeling op die gepaste wyse plaasvind.

Soortgelyke plasings