|

AfriForum sê publiek moet deelneem aan proses teen Eskom-tariewe

Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n beroep op die publiek om van 18 November tot 4 Desember deel te neem aan die openbare raadplegingsessies oor Eskom se voorgestelde tariefverhogings. Eskom het sy voorgestelde tariefverhogings vir die volgende drie jaar aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) voorgelê en die publiek het nou geleentheid om kommentaar daarop te lewer. Geskrewe kommentaar moet wel teen 1 November ingedien word.

Eskom het onder meer vir die 2025-’26 boekjaar ’n tariefstyging van 36,15% gevra. Volgens Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum kan daar nie van die verbruiker verwag word om nou op te dok sodat Eskom jarelange wanbesteding en wanbestuur kan probeer regstel nie.

“AfriForum sal deelneem aan hierdie proses en voortgaan om gemeenskappe te ondersteun om billike elektrisiteitstariewe te verseker. Ons sal NERSA se reguleringsproses ook noukeurig moniteer en optree indien daar onbillike gebruike en wanpraktyke opgemerk word,” sluit Mostert af.

AfriForum sal meer inligting oor die openbare raadplegingsessies deurgee soos dit beskikbaar gemaak word. Die organisasie dryf ook ’n petisie teen hierdie onbillike tariefverhogings en die publiek kan hul stem ook daar laat geld.  

Geskrewe kommentaar kan per e-pos aan mypd@nersa.org.za gestuur word teen 16:00 op 1 November 2024.

Die datums vir die openbare raadplegingsessies is as volg, dorpe en lokale sal later deurgegee word:

18-19 November – Wes-Kaap

20 November – Oos-Kaap

21-22 November – KwaZulu-Natal

25 November – Vrystaat

26 November – Noord-Kaap

27 November – Mpumalanga

29 November – Limpopo

2 Desember – Noordwes

3-4 Desember – Gauteng

Soortgelyke plasings