Aanlynskoleregistrasie in Gauteng laat nie ruimte vir moedertaalonderrig nie


Die burgerregte organisasie AfriForum is bekommerd oor die invloed wat die Gautengse aanlynskoleregistrasieproses op die bestaande taalbeleid van Afrikaanse skole gaan hê. Hierdie proses kan lei tot die plasing van kinders in skole wat wel naby hul huis of ouers se werkplek is, maar nie in hul moedertaal onderrig gee nie.
Panyaza Lesufi, die LUR vir Gautengse onderwys, moedig ouers aan om hul kinders by enige skool te registreer, ongeag of die skool onderrig in die kind/ers se gekose taal gee. Volgens Steve Mabona, die departement se woordvoerder, is die oplossing dat enkelmedium Afrikaanse skole voortaan na ’n parallelmediumstelsel met Afrikaanse en Engelse klasse moet oorskakel. Dit sal onhaalbare uitdagings aan skole en die departement se hulpbronne stel.  Statistieke van die provinsie bewys bowendien dat parallelmediuminstellings vroeër of later verengels. Hierdie plan sal onderwysgehalte in die provinsie, en veral die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal, dus ingrypend benadeel.

“Volgens Lesufi is 98% van leerlinge wat verlede jaar betyds geregistreer is, by die skole van hul keuse geplaas. Dit is dus uiters belangrik dat Afrikaanse ouers flink moet optree en hul kinders vinnig moet inskryf om op só wyse te help dat skole se taalbeleide onveranderd bly,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

Volgens Bloem moniteer AfriForum dié proses en plasings en sal dié organisasie enige pogings om Afrikaanse leerders se reg op moedertaalonderrig te bedreig, teenstaan.
Ouers wat onseker is oor hoe die aanlynregistrasiestelsel werk, of meer daaroor te wete wil kom, is welkom om die inligting op AfriForum se webblad te bekom by https://afriforum.co.za/virskole. Nuus daaroor kan verder op AfriForum se Facebook-blad onder die hutsmerk VirSkole (#VirSkole) gevolg word.
Ouers kan AfriForum bystaan in aksies om Afrikaans as onderrigtaal in skole te beskerm. SMS jou “Naam” na 42314 (R1).

Soortgelyke plasings