|

AANRANDING- EN MOORDSAAK UITEINDELIK IN HOF NÁ PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID INGRYP

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag in twee afsonderlike sake persone in die Pretoriase Landdroshof ondersteun ná ’n lang stryd om dié twee sake eindelik voor die hof te kry. Die beskuldigde wat aangekla word op twee klagtes van die moord op Ruan Coen (26) en Jessika Kennedy (25) het egter nie by die hof opgedaag nie en die polisie gaan nou aansoek doen om ’n lasbrief vir sy arrestasie. Lizzie Kganyago het vir die tweede keer verskyn op onder meer ’n klag van die aanranding van haar polisiekollega Sanette Erasmus by die Wierdabrug-polisiekantoor. Die saak teen Kganyago is uitgestel vir pleit en verhoor tot 17 Mei 2021.

Die beskuldigde in die eersgemelde saak het op 23 Desember 2017 gebots met die motor waarin Coen en Kennedy gery het, en Coen en Kennedy is op slag dood. Die dossier teen die beskuldigde – wat tydens die ongeluk vermoedelik dronk en onder die invloed van dwelms was – het na bewering by die Silverton-polisiestasie verdwyn. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het saam met kol. Werner Everson van die Silverton-speurtak en sersant Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak gewerk om die dossier weer op te bou sodat die beskuldigde vervolg kon word.

Kganyago het na bewering vir Erasmus, ’n senior administrasiebeampte van die SAPD, in Oktober 2019 herhaaldelik met die plat hand teen die kop en in die gesig geslaan, rondgestamp en op die grond platgedruk. Dit het gebeur nadat Erasmus vir Kganyago daarop gewys het dat sommige van die dokumente wat Kganyago aan haar oorhandig het om te verwerk nie na behore in die register opgeneem is nie. Die beweerde aanranding het plaasgevind in die kantoor van ’n senior polisie-offisier, wat versuim het om tussenbeide te tree. Erasmus het die voorval dadelik by die stasiebevelvoerder aangemeld, waarna hy vir Erasmus en Kganyago na sy kantoor ontbied het. Na bewering het Kganyago egter in die teenwoordigheid van die stasiebevelvoerder vernederende opmerkings teenoor Erasmus gemaak en haar gevloek. Kganyago word ook van crimen injuria aangekla.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Erasmus gehelp om strafregtelike klagtes teen Kganyago te lê nadat die polisie aanvanklik geweier het dat sy klagtes lê. Nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aangedui het dat hulle Kganyago nie gaan vervolg nie, het die privaatvervolgingseenheid Erasmus in Maart 2020 gehelp om aansoek te doen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat om Kganyago privaat te vervolg. Nadat die aansoek ontvang is, het die NVG onverwags aangedui dat die saak nog ondersoek moet word. Die NVG het uiteindelik in Februarie 2021 (meer as twee jaar ná die voorval) aangedui dat hulle Kganyago wel vir die aanranding van Erasmus gaan vervolg.

Die eenheid het Erasmus ook ondersteun om diensklagtes teen Kganyago by die provinsiale polisiekommissarisin te dien, asook teen die stasiebevelvoerder en die senior polisie-offisier wat die beweerde aanranding aanskou het, omdat geen dissiplinêre optrede gevolg het nie. Die dissiplinêre verhoor is egter van die hand gewys, omdat die SAPD beweer dat dit nie ’n dissiplinêre verhoor kan aanhoor terwyl die strafregtelike saak aan die gang is nie. AfriForum is steeds besig om druk op die SAPD te plaas om te verseker dat die dissiplinêre verhoor wél voortgaan.

“Dié twee gevalle bewys weer eens waarom die bestaan van ’n eenheid soos AfriForum se privaatvervolgingseenheid onontbeerlik geword het in die geveg vir geregtigheid. Sonder die eenheid se ingryping en ondersteuning sou hierdie twee sake eenvoudig verdwyn het en die beskuldigdes sou geen gevolge vir hul dade in die gesig moes staar nie. Ons sal voortgaan om hierdie sake te moniteer en die slagoffers te ondersteun,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings