Adv. Barry Roux gaan direk na appèlhof petisioneer namens Coligny-twee


Die regspan van Pieter Doorewaard en Phillip Schutte van Coligny, onder leiding van adv. Barry Roux, gaan direk na die hoogste hof van appèl petisioneer om verlof te kry om appèl aan te teken teen hulle skuldigbevinding deur die hooggeregshof in Mmabatho aan moord op ‘n tiener, Matlhomola Maoshoeu. Dít volg nadat genoemde hof vanoggend geweier het om verlof tot appèl in die saak toe te staan.

AfriForum het aangedui dat hy die mans se appèlaansoek sal finansier, nadat die enigste ooggetuie in die moordsaak, Bonakele Pakisi, teenoor vier verskillende persone erken het dat hy met sy getuienis – dat hy gesien het hoe Doorewaard en Schutte ’n tiener vermoor – in die hof gelieg het.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie verwag dat die regter in die saak nie bereid sou wees om verlof tot appèl toe te staan nie, aangesien hy moeilik sou erken dat hy ernstig misgetas het in sy aanvanklike besluit om die twee mans aan moord skuldig te bevind.
Kriel wys daarop dat AfriForum die twee mans se regskoste om die hoogste hof van appèl te petisioneer, ook sal finansier om te verseker dat geregtigheid geskied en te verhoed dat onskuldige mense verkeerdelik in die tronk beland.

“Ek is vol vertroue dat die twee mans se skuldigbevinding aan moord uiteindelik op grond van die beskikbare getuienis ter syde gestel sal word,” sê Kriel.

Volgens Kriel is dit belangrik dat diegene wat leuens verkondig om rassespanning te skep en valslik ’n wolk van ‘rassisme’ oor onskuldige mense se koppe te laat hang, tot verantwoording geroep moet word. “Die tyd het aangebreek dat leuenaars en rasse-opstokers se vernietigingswerk teengestaan word,” sê Kriel.

Soortgelyke plasings