Adv. Gerrie Nel aangestel as hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid


Adv. Gerrie Nel het as staatsaanklaer bedank en sal vanaf 1 Februarie 2017 hoof van AfriForum se nuwe privaat vervolgingseenheid wees. Suid-Afrikaanse wetgewing maak privaat vervolging moontlik in gevalle waar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit om iemand wat van ’n misdryf verdink word nie te vervolg nie.
Volgens Nel het hy besluit om die pos by AfriForum te aanvaar omdat hy bekommerd is oor die persepsie dat die NVG geneig is tot selektiewe vervolgings en dat almal skynbaar nie gelyk is voor die reg nie.

“Ek glo in die oppergesag van die reg. AfriForum se pasgestigte privaat vervolgingseenheid bied aan my die geleentheid om vanuit die burgerlike samelewing te help verseker dat almal, ongeag posisie, gelyk is voor die reg. Ek en AfriForum is nou in ’n posisie om korrupte persone wat nie deur die NVG vervolg word nie self te vervolg,” sê Nel.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê Nel se aanstelling is ’n reusestap vorentoe in AfriForum se stryd teen korrupsie en die plundering van belastingbetalers se geld. Volgens Kriel vertrou hy dat Nel se aanstelling ’n duidelike boodskap aan korrupte politici en amptenare op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak sal stuur dat hulle nie langer weens hul politieke kontakte van vervolging gevrywaar is nie.

“Korrupte persone moet besef dat niemand bo die reg verhewe is nie, selfs nie die land se president nie,” sê Kriel.

Nel gaan nou met ’n proses begin om ander kundiges by AfriForum se privaat vervolgingseenheid te betrek om te verseker dat AfriForum oor die sterkste moontlike vermoë beskik om in te tree waar die strafregstelsel versuim om geregtigheid te laat geskied.
Volgens Nel gaan hy begin met ’n ondersoek om te bepaal watter openbare amptenare teen wie daar ’n sterk saak is nie vervolg word nie.
Kriel het daarop gewys dat, hoewel dit baie duur is om privaat te vervolg, beteken Nel se aanstelling by AfriForum dat privaat vervolging nie meer ’n onhaalbare droom is nie.
AfriForum sê by monde van Kriel dat elke lid van die publiek ’n groot rol kan speel om die nuwe vervolgingseenheid sterker te maak deur tot die regskoste by te dra. Om dit maklik te maak, is ’n stelsel geskep waardeur die publiek R10 vir die regskoste kan skenk deur bloot hul name na 38312 te SMS.

Soortgelyke plasings