Adv. Gerrie Nel bied Knak Korrupsie-opleiding in Bellville aan


Adv. Gerrie Nel, hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het op 7 Junie 2018 op uitnodiging van dié organisasie se Kaapstad-Noord-tak die gemeenskap van die groter Kaapstad en omliggende dorpe oor korrupsie en privaat vervolging toegespreek. Die opleiding is deur bykans 200 mense bygewoon.
Dié besoek vorm deel van AfriForum se Knak Korrupsie-veldtog, wat onder meer korrupsie-opleiding insluit oor wat korrupsie behels en hoe die publiek dit kan help bekamp. Die gehoor het ook geleentheid gehad om vrae aan adv. Nel te stel.

Adv. Nel het die publiek aangespoor om saam te staan en korrupsie te beveg deur nie aan korrupte aktiwiteite deel te neem nie, korrupsie aan te meld en by plaaslike gemeenskapstrukture soos AfriForum betrokke te raak. Hy het met die bekende aanhaling van Albert Einstein afgesluit: “Die wêreld gaan nie verwoes word deur hulle wat booshede aanvang nie, maar deur hulle wat toekyk sonder om iets te doen.”
“Die aand was ’n reusesukses en ons is dankbaar dat adv. Nel sy kundigheid met die publiek kon deel om ons te bemagtig om korrupsie op sowel regeringsvlak as in die privaat sektor hok te slaan,” sê Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Kaap .

Stuur ’n e-pos aan tommy.vanzyl@vttyre.co.za om by dié tak betrokke te raak en ’n verskil te maak.

Soortgelyke plasings