|

ADV. GERRIE NEL KRUISONDERVRA BRANDDESKUNDIGE IN GEREGTELIKE DOODSONDERSOEK NA VLAMMEDOOD VAN DEEDAT-GESINSLEDE

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het op 10 en 11 Februarie 2021 in die Johannesburgse Landdroshof ’n branddeskundige oor die vlammedood van Suraya Deedat en haar vier kinders in 2011 gekruisondervra. Die deskundige getuie is aangestel deur die regspan van die persoon van belang in die ondersoek, Naeem Deedat, Suraya se man en die enigste persoon wat die brand oorleef het.

Gary Kemp van Phoenix Fire Investigation is deur Naeem se regspan aangestel om kritiek te lewer op die brandverslae wat saamgestel is deur AfriForum se branddeskundige (Danny Joubert), sowel as die oorspronklike brandverslag van die Suid-Afrikaanse Brandweerdiens. Tydens kruisondervraging het Kemp erken dat hy nie van Joubert se verslag kan verskil oor waar die bed met betrekking tot die verwarmer gestaan het nie. Kemp moes ook beken dat die deur tussen die kamer (waar Suraya en haar kinders se liggame gevind is) en die badkamer (waar Naeem onder die stort gestaan het om homself teen die vlamme te beskerm) ten minste in ’n stadium toe was. Hy moes verder erken dat hy nog nooit in enige vorige brandondersoek gevind het dat vyf liggame op hul rûe in ’n ry gevind is in ’n huis wat afgebrand het nie, asook dat dit moontlik is dat iemand hul liggame kon gedra het en in daardie posisie geplaas het.

Niemand is in byna ’n dekade vir Suraya en haar kinders se dood aanspreeklik gehou nie en die formele geregtelike doodsondersoek gee aan belanghebbende partye die geleentheid om getuienis te toets en die landdros te help om tot ’n bevinding te kom rakende wie en/of wat verantwoordelik was vir hul dood.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid hoop dat hierdie ondersoek sal lei tot geregtigheid vir Suraya se familie en dat die hof sal gelas dat die Nasionale Vervolgingsgesag vervolging moet instel. Dit is belangrik dat AfriForum by sake soos hierdie betrokke raak, omdat geregtigheid moet geskied vir hierdie gesin wat al so lank wag op antwoorde oor wat daardie aand gebeur het,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die geregtelike doodsondersoek sal op 15 en 16 Februarie voortgaan wanneer Naeem se regspan ’n deskundige van die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR) as getuie sal roep.

Soortgelyke plasings