|

Adv. Nel se ondersoek bring hoop vir Kuga-brandslagoffer se familie

Dit is amper drie jaar sedert Renisha Jimmy se broer, Reshall, dood is nadat die Ford Kuga-voertuig waarin hy gery het aan die brand geraak het.

Vir Renisha en haar familie was dit ’n lang en uitgerekte stryd om uit te vind wat gebeur het en om Ford sover te kry om ’n geregtelike ondersoek na haar broer se dood te doen.

“Dit was ’n bitter moeilike reis en ons het ons telkens teen toe deure vasgeloop. Ons het met tye gevoel dat niemand daarin belangstel dat geregtigheid seëvier nie.”

Volgens Renisha is hulle uitermate positief dat die saak nou kan draai met adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid wat ’n kernrol hierin gespeel het. “Sy volharding het hierdie ondersoekdatum moontlik gemaak. Ons geveg met Ford om met die waarheid oor die omstandighede rondom die brand vorendag te kom, is al vir jare aan die gang, en as familie is ons nie bereid om die geveg op te gee nie.

“Ons doen hierdie saak nie net vir onsself nie. Daar is soveel ander wat ook gelei het en afhanklik is van die uitkoms van die saak om geregtigheid te sien gebeur. Ons is vol vertroue dat die toepaslike gevolgtrekkings en bevindings in die ondersoek gemaak sal word,” sê Renisha.

Die hooggeregshof in Kaapstad het die familie ingelig dat die ondersoek waarop hulle bykans drie jaar wag op 4 Februarie 2019 sal plaasvind. Die voorafverhoor begin binnekort.

“Die familie het vir bykans drie jaar lank gewag dat die saak ondersoek moet word. AfriForum het talle briewe geskryf om te versoek dat daar ’n formele geregtelike ondersoek na die omstandighede rondom en die oorsaak van die slagoffer se dood ingestel word. Die Jimmy-familie het uiteindelik ’n kennisgewing van die griffier van die Wes-Kaapse Hooggeregshof ontvang dat die geregtelike ondersoek sal plaasvind en dat die voorafverhoor binnekort sal begin. Ons is bly dat die proses uiteindelik begin. Dit was ’n baie traumatiese tyd vir die gesin, wat desperaat is vir genesing. Ons sal ons beskouing van en ervarings met Ford en hul regspan ook in die komende week of twee onthul – veral Ford se uitgesproke houding jeens hul kliënte,” het Nel gesê.

Luidens mediaberigte is meer as 7 000 Ford Kuga-voertuie deur die Ford-maatskappy in Suid-Afrika onttrek. Dit kom nadat 72 van die motors tussen November 2015 en Desember 2017 volgens Wheels24 in die land vlam gevat het.

Soortgelyke plasings