Gemeenskapsake

Gemeenskapsake fokus op kwessies wat ’n direkte impak op die gemeenskap se veiligheid en gesondheid mag hê, insluitend kwessies op munisipale vlak. Dit word vermag deur ’n netwerk van AfriForum-takke dwarsoor Suid-Afrika – deur die mense, vir die mense.

OMGEWINGSAKE

Almal het die reg tot ’n gesonde omgewing wat goeie gesondheid bevorder. Dit is egter moontlik dat politiese omstandighede mense van hul omgewingsregte kan ontneem. Om hierdie rede is AfriForum se omgewingsake-afdeling in die lewe geroep: Om omgewingsgesondheid en die volhoubaarheid daarvan binne die raamwerk van omgewings- en waterwetgewing te bewerkstellig en te bevorder.

Dié afdeling maak veral van sy takke se omgewingsakeportefeuljes gebruik om ’n nasionale omgewings- en watermoniteringsfunksie te skep. Dit tree dus as waghond op om oortredings te identifiseer en die betrokke reguleerder vir doeltreffende water- en omgewingsbestuur verantwoordelik te hou. Die afdeling fokus ook sterk daarop om selfdoenvermoë by takke te skep om, waar nodig en in samewerking met plaaslike munisipaliteite, waterinfrastruktuur te help onderhou, vullisterreine skoon te maak en rioolinfrastruktuur te herstel. Dit is in die tak se belang om ’n volhoubare toekoms vir sy nageslag te skep deur plaaslike omgewingsaksies te dryf.

Omgewingsake se werksaamhede word tussen projekte, veldtogte en petisies verdeel.

PROJEKTE

Omgewingsake is met verskeie projekte en inisiatiewe gemoeid. Die belangrikste hiervan is:

Blou-en-groendruppelprojek

Dié projek fokus op die gehalte van drink- en rioolwater en verseker dat munisipaliteite se watergehalte aan die minimum wetlike vereistes voldoen. Op dié wyse het Omgewingsake verseker dat ten minste 7 miljoen mense toegang tot skoon drinkwater het.

Vullisterreinoudit

Dié oudit meet munisipale vullisterreine se voldoening aan wetgewing aan die hand van ’n aantal vrae wat op die minimum wetlike vereistes vir vullisterreine gebaseer is.

Boomplantmaand

Hoewel Suid-Afrika Nasionale Boomplantweek vier, het Omgewingsake dié week na ’n maand verleng om bewustheid vir dié onontbeerlike hulpbron te skep.

Skoonmaakmaand

Dié projek stel die gemeenskap in staat om self ’n geïdentifiseerde gebied in hul dorp te teiken en skoon te maak deur rommel op te tel, bome en struike te snoei en dit daarna na ’n vullisterrein weg te ry.

Noodwaterpunte

AfriForum help droogtegeteisterde gemeenskappe deur noodwaterpunte te skep waar water beskikbaar gestel kan word, soos byvoorbeeld onlangs in Kaapstad die geval was.

Mynwaterlisensieoudit

Dié oudit bepaal of die Departement van Omgewingsake die mynbedryf se waterverbruik ingevolge lisensievoorwaardes doeltreffend bestuur, asook hoeveel myne sonder dié lisensies myn.

Herwinning

Dié projek fokus op herwinning op takvlak en sluit herwinning van papier, bottels en blikkies, drukkerinkhouers, karton, batterye en selfs meubels in. Deur ’n herwinningsprojek van stapel te stuur, kan ’n tak ’n direkte positiewe impak op die omgewing hê en – as dit reg bestuur word – ’n inkomste vir die tak genereer.

Bewaringsgebiede

Dié projek fokus op nasionale parke en natuurreservate in plaaslike gemeenskappe, asook deelname aan die boomplantmaandprogram. Die doelwit is om ’n selfdoenvermoë te skep om plaaslike bewaringsgebiede te onderhou en inspraak op volhoubare ontwikkeling te vestig.

Bedreigde spesies

Die projek gaan inligting oor bedreigde fauna- en floraspesies onder lede se aandag bring, veral in die geval van enige rooidataspesies en bedreigde of sensitiewe ekostelsels.

Sentrum vir plaaslike regering

Dit is alombekend dat Suid-Afrika in sowel ’n munisipale as regeringskrisis verkeer. Vir die afgelope paar jaar ontvang minder as 10% van die land se munisipaliteite ’n skoon oudit. Munisipale verval het uiteraard ’n vernietigende uitwerking op gemeenskappe se lewenspeil en plaaslike ekonomieë.

Weens die aard en spesialiteit van die werk wat deur AfriForum Gemeenskapsake (GMS) verrig word, is dit nodig dat die afdeling ook deur ’n meer gespesialiseerde navorsingsvermoë ondersteun word.

Die Sentrum vir Plaaslike Regering is ’n navorsingsinstelling wat vele aspekte van plaaslike bestuur sal ondersoek. Dit sal binne die gemeenskapsake-afdeling gesetel wees en uiteraard nou met dié afdeling saamwerk om teorie en praktyk by mekaar uit te bring. Die oorhoofse idee is om plaaslike regerings se benarde toestand in die land uit te lig en dit gelyktydig met idees en oplossings “te laat praat”.

Soos die naam aandui, sal algemene munisipale sake en navorsing beslis ook aan die bod kom. Die sentrum sal daarna streef om nie net die voorste ontledingsbron oor munisipale aangeleenthede te wees nie, maar ook om relevante navorsingsuitsette van goeie gehalte te produseer. Voorts sal dit as waghond optree – veral ten opsigte van munisipale verval en korrupsie.

Dr. Eugene Brink is die bestuurder van die sentrum.

Mediaverklarings

Verslae

MEDIAVERKLARINGS