|

AfriFoon: Eerste van sy soort ter wêreld

Die selfoondiens AfriFoon is die eerste selfoondiens in die wêreld wat alle bemarking, korrespondensie, kontrakte, verkoopaksies en dienslewering slegs in Afrikaans aanbied.

Dié selfoondiens is op die been gebring om Afrikaans in die telekommunikasiespeelveld te bevorder en ’n belangrike bydrae te lewer tot die uitbou van Afrikaans in die tegnologiesektor.

Waardetoegevoegde diensverskaffers en vennote het saamgespan om optimale dienslewering te verseker. AfriFoon word gerugsteun deur Glocell en funksioneer op die Cell C-netwerk.

Volgens AfriFoon toon navorsing dat daar ’n groot behoefte aan moedertaaldiensverskaffers is en AfriFoon wil met hul diensverskaffing en produkreeks dié behoefte in die mark vul.

AfriFoon-kliënte kan ook uit eie keuse ʼn bydrae maak tot dié diensverskaffer se Afrikaanse opleidingstrust. Dié opleidingtrust is ʼn fonds wat gebruik gaan word om op verskeie maniere opleiding aan Afrikaanse studente te bied om hulle te help om hulle drome te verwesenlik.

“Dit is baie belangrik dat Afrikaans bevorder word in alle ondernemings. Afrikaans is een van Suid-Afrika se amptelike tale en moet ook as belangrike taal in die sakesektor beskou word,” meen Beatrice Pretorius, Afrifoon woordvoerder.

AfriFoon gee 5%-afslag op nuwe kontrakte wat op verskeie maniere aangewend kan word. Dié korting kan óf aan die opleidingstrust geskenk word óf intekenaars kan kies dat die korting van hul persoonlike rekening afgetrek word.

Om jou kwotasie van AfriFoon te kry, SMS jou naam na 45114 (R1) en ʼn agent sal jou terugskakel.

Soortgelyke plasings