|

AfriForum 12 takke sterker sedert begin van 2016

AfriForum het sedert April vanjaar reeds ses nuwe takke gestig, wat beteken dat dié burgerregte-organisasie dus 12 nuwe takke sterker geword het in 2016.

Die takke wat sedert April gestig is, is in Bronkhorstspruit, Brits, Potchefstroom, Koster, Primrose en Ottosdal. Takke is ook vroeër vanjaar in Zambesi, Alberton, Nigel, Heidelberg in Gauteng en Upington gestig.

AfriForum het loodskomitees in Koster, Potchefstroom en Brits op die been gebring om die baanbrekerswerk vir die stigting van nuwe takke in dié dorpe te doen. ’n AfriForum-tak is ook in die woonbuurt van Primrose, Germiston, gestig. Tydens die formele opening is kwessies soos gemeenskapsveiligheid, swak dienslewering en die skending van minderheidsregte bespreek.

AfriForum het ook ’n loodskomitee in Ottosdal op die been gebring om die baanbrekerswerk vir die stigting van ’n nuwe tak in dié dorp te doen. Dit volg ná klagtes uit die gemeenskap oor swak munisipale dienslewering wat onder meer watervoorsiening insluit.

AfriForum se Machadodorp-tak het ’n nuwe takbestuur vanjaar verkies. Daar is meer lede verkies om aan bepaalde behoeftes te voldoen wat deur gemeenskapslede in Machadodorp geïdentifiseer is.

Die burgerregte-waghond het ook ’n nuwe tak in Bronkhorstspruit gestig, wat reeds gewoeker en ʼn dorpspatrollie georganiseer het waaraan 19 buurtwagte in die Bronkhorstspruit-omgewing deelgeneem het. Die Bronkhorstspruit-tak en inwoners van Vaalbank in Mpumalanga het ook ʼn selfdoen-aksie onderneem waartydens rommel wat onwettig op privaat grond gestort is, verwyder is.

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is takke gefokus op die uitbreiding en instandhouding van AfriForum se plaaslike strukture.

AfriForum het sedert Mei 2010 meer as 100 takke landwyd gestig wat daarop gemik is om pro-aktief op te tree in gemeenskappe waar munisipaliteite versuim om hul plig na te kom.

Volgens Jansen van Rensburg bestaan die afdeling gemeenskapsake in AfriForum uit verskillende bene naamlik veiligheid, omgewingsake, plaaslike regering en die jeug. Om ’n AfriForum-tak te stig, moet minstens 100 lede aansluit waarvan 10 hulself beskikbaar moet stel om as bestuurslede te dien.

Hy het voorts gesê gemeenskapsake se vooruitsig vir die jaar is om hul strukture te versterk. “Sodoende kan ons boewe van ons strate af en onbekwame amptenare uit ons beursies hou.”

Dorpe of individue wat daarin belangstel om ’n verskil in die gemeenskap te maak deur ’n tak te stig, kan AfriForum se webtuiste by https://afriforum.co.za/takke/begin-tak/ besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings