| |

AfriForum 15 Maart in hof oor Kuba-skenking

Die burgerregteorganisasie AfriForum is op 15 Maart 2022 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria om ’n dringende interdik te bekom wat die regering sal verhoed om ’n beplande R50 miljoen-skenking aan Kuba te maak. AfriForum sal ook later ’n hersieningsaansoek by die hof indien waarin die organisasie versoek dat die besluit om die geld aan Kuba te skenk omgekeer word.

AfriForum se regsargumente dat die skenking nie moet plaasvind nie berus op die volgende punte.

Die skenking is eerstens teenstrydig met die Afrika Renaissance en Internasionale Samewerkingsfonds (ARF), op grond waarvan die skenking gemaak word. Dié fonds stipuleer dat daar parlementêre oorsig oor so ’n skenking moet wees, wat daar nie in hierdie geval was nie. Tweedens is die skenking ook in stryd met die Openbare Finansiële Bestuurswet, omdat dit nie behoorlik deur die Nasionale Tesourie of deur die Minister van Finansies goedgekeur is nie. Dit is ook ’n skreiende skande dat die regering geld by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en ander internasionale organisasies leen, maar daardie geld (of van die land se ander geld) aan Kuba wil skenk. Dit terwyl die land in ’n ellendige ekonomiese posisie is. Derhalwe, is dit eenvoudig ongrondwetlik om die geld aan Kuba skenk te midde van die ernstige ekonomiese krisis waaronder lede van die publiek ly.

“Die regering se beplande skenking is geheel en al onwettig omdat dit ’n hele aantal wette oortree. Dit is goed om te sien dat die regering groot teenkanting van die burgerlike samelewing, politieke partye en individue oor hierdie belaglike voorneme ontvang. AfriForum hoop dus om finaal ’n einde aan hierdie irrasionele en onwettige skenking in die hof te maak,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings