AfriForum 911-beheerkamer behaal sukses


AfriForum se 911-beheerkamer het op Dinsdagoggend 19 Februarie 2019 ’n noodkennis­gewing van ’n AfriForum-lid in Hazyview deur die TrackBox-toep ontvang. Dié lid het die beheerkamer in kennis gestel dat een van sy werknemers – ’n vragmotorbestuurder – gekaap is en as gyselaar aangehou word. Die verdagtes het ’n losprys van R5 500 vir die drywer se vrylating geëis.

Die naspoormaatskappy en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is in kennis gestel en vir bystand ontbied. Die gekaapte bussie is kort daarna in die Witbank-omgewing opgespoor. Te danke aan verhoogde sigbaarheid van die SAPD en ander veiligheidsinstansies in dié gebied is die drywer ongedeerd vrygelaat. Die naspoormaatskappy kon ook later daarin slaag om die gekaapte voertuig in besit te neem.

“AfriForum is trots op ons vermoë om tydens noodgevalle bystand aan gemeenskapslede te bied. Dit bly een van AfriForum se doelwitte om, met behulp van praktiese middele, voortdurend die gemeenskap op hierdie wyse te dien. Ons moedig gemeenskappe aan om by hul plaaslike AfriForum-tak of enige ander veiligheidsinisiatief betrokke te raak om sodoende ook tot beter gemeenskapsveiligheid by te dra,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid in die noordstreek.
“Deur jou inligting op TrackBox beskikbaar te stel, kan die beheerkamer dié inligting onmiddellik aan nooddienste oordra sodat hulle jou noodgeval op die doeltreffendste wyse kan hanteer. AfriForum doen ’n beroep op gemeenskapslede om hierdie toep af te laai. Dit is beskikbaar by www.afriforum911.co.za,” sluit Coetzer af.

Soortgelyke plasings