AfriForum 911 en SAPD behaal verskeie suksesse


AfriForum 911 se beheerkamer het in samewerking met die SAPD op 6 Maart 2019 verskeie suksesse behaal. Vier verdagtes wat vir ’n plaasaanval digby Tweeling in die Vrystaat verantwoordelik was, is naby die Lesotho-grenspos gearresteer. Tydens dié arrestasie is twee handwapens, ammunisie, kontant en vyf selfone in die verdagtes se besit gevind.

In nóg ’n sukses is twee minderjarige kinders wat op 2 Februarie vanjaar op Potgietersrus vermis geraak het, ongedeerd in Pietersburg opgespoor. Die derde sukses behels die soektog na ’n vermiste persoon van Vosman wat moontlik selfmoord wou pleeg. Dié persoon is egter ook ongedeerd gevind. AfriForum se 911-span, die SAPD, asook verskeie ander veiligheidsrolspelers het almal tot bogenoemde suksesse bygedra.

“AfriForum 911 het hierdie sake deurentyd opgevolg en die SAPD met die nuutste inligting op hoogte gehou. Dit is belangrik om by AfriForum se veiligheidstrukture in jou gemeenskap betrokke te raak en sodoende ’n bydrae tot jou dorp se veiligheid te lewer,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
“Maak ook seker dat jy die AfriForum 911-noodgevaltoep op jou slimfoon aflaai ten einde hulp te ontbied tydens ’n noodgeval of om verdagte aktiwiteite aan te meld. Besoek gerus AfriForum 911 se webtuiste by www.afriforum911.co.za,” sluit Cameron af.

Soortgelyke plasings