|

AfriForum 911 Noodknoppie help al meer mense in nood

Die AfriForum 911 Noodknoppie, die noodgevaltoep wat ’n mens op jou selfoon kan aflaai, se gewildheid het met rasse skrede toegeneem en daartoe gelei dat die burgerregte-organisasie al hoe meer mense in nood kan help.

Meer as 30 000 van die organisasie se lede het reeds die toep op hul selfone afgelaai.

In die jongste geval kon AfriForum gister help om ’n gekaapte voertuig in Witbank op te spoor.

’n Lid het die AfriForum 911 Noodknoppie gisteroggend omstreeks 9:50 geaktiveer en AfriForum se beheerkamer in kennis gestel dat een van sy werkers in een van sy voertuie, ’n wit Toyota Quatum bakkie gekaap is. Daar was ’n vrag kuikens agter op die bakkie. Die werker is gyselaar gehou en kon gelukkig daarin slaag om sy werkgewer te bel. Die kapers wou R5 500 kontant van die man hê. Hulle het hom later uit die voertuig gegooi en daarmee op die vlug geslaan.

AfriForum se beheerkamer het die polisie in Bronkhorstspruit en Witbank oor die voorval ingelig. Die voertuig het ook ’n Cartrack-opsporingstoestel ingehad. Die beheerkamer het ook ’n beskrywing van die bakke en die registrasienommer aan Cartrack deurgegee wat ’n reaksie-eenheid uitgestuur het.

Hulle kon daarin slaag om die voertuig terug te vind. Die kapers het egter weggekom.

Die AfriForum 911 Noodknoppie en nooddiens word in samewerking met TrackBox Technologies aangebied. TrackBox se bestaande nooddiensvennote sluit in die SAPD, die Valke, die K9-eenheid, 10111-sentrums, Netcare 911, ER24, brand- en reddingsdepartemente, gevorderde lewensonderteuning, die Ethekweni Munisipaliteit en die Stad Kaapstad.

Die AfriForum 911 Noodknoppie kan gebruik word in die geval van aanvalle, kapings, huisbrake, diefstalle, brand en mediese noodgevalle.

Mense wat die toep afgelaai het, kan ook verdagte persone, voertuie, gevalle van mensehandel, voorvalle van jag met honde, onwettige parkering en grondgrype deur die gebruik daarvan aanmeld.

AfriForum-lede kan teen ’n bykomende fooi van R20 per maand Premiumdienste kry wat GPS- en selfoonopsporing in geval van nood insluit asook ’n Spoor my na-funksie het. Met laasgenoemde kan gebruikers, wat byvoorbeeld op reis gaan, met gereelde intervalle deur die beheerkamer geskakel word om hul veiligheid te bevestig.

Vir meer inligting oor die AfriForum 911 Noodknoppie besoek www.afriforum911.co.za

Soortgelyke plasings