AfriForum 911 Trauma Slagofferondersteuningseenheid help plaasaanvalslagoffers naby Koster


AfriForum 911 Trauma se slagofferondersteuningseenheid het ’n slagofferfonds op die been gebring om slagoffers van plaasaanvalle by te staan. AfriForum 911 Trauma, Charné Blignaut (AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot Marico) en inwoners van De Goede Hoop het Saterdag 21 Julie 2018 die eerste slagofferondersteuningsprojek op ’n plaas buite Koster aangepak.
Die slagofferondersteuningsfonds is aangewend om Ben en Marietjie Paynter se plaashuis te beveilig deur onder meer ’n heining om die huis op te rig.

“Ons is ook in die proses om diefwering en ʼn veiligheidshek te maak, om te verseker dat die huis self ook veilig is,” sê Caty van der Merwe, operasionele bestuurder van AfriForum 911 Trauma.

Sedert die aanval waartydens die bejaarde egpaar ernstig aangeval en van byna al hul besittings beroof is, het mev. Paynter geweier om die huis te verlaat weens vrees en die erge trauma van die aanval. Vrywilligers het ook die tuin opgeknap, waarna mev. Painter die vrymoedigheid gehad het om die huis te verlaat.
“Ons hoop om in die toekoms meer mense te help en weer hoop te skep vir slagoffers van plaasaanvalle,” sê Van der Merwe.

Soortgelyke plasings