AfriForum 911 Traumaslagofferondersteuningseenheid verleen hulp aan Huis Davidtsz-inwoners


Die AfriForum 911 Traumaslagofferondersteuningseenheid het op 3 en 4 Augustus 2018 emosionele bystand aan inwoners van Huis Davidtsz – ’n tehuis vir bejaardes en verswakte volwassenes in die Pretoriase middestad – verleen.

Solidariteit Helpende Hand het ’n dringende hofbevel bekom sodat daar toegang tot die tehuis verkry kon word en die bejaardes en verswakte volwassenes die nodige hulp kon kry nadat werkers en versorgers van die tehuis gestaak het weens geskille tussen hulle en die bestuur van die tehuis. “Ons gaan aanhou om die nodige bystand en emosionele ondersteuning by die tehuis te bied omrede die geskil tussen die werkers en bestuur nog nie opgelos is nie en samesprekings môre hervat word,” sê Caty van der Merwe, operasionele bestuurder van die AfriForum 911 Traumaslagofferondersteuningseenheid.
“Solidariteit Helpende Hand doen ongelooflike werk by die tehuis en ons is daar om ook húl hande ligter te maak en toe te sien dat die inwoners die nodige hulp en bystand kry,” sluit Van der Merwe af.

Soortgelyke plasings