AfriForum aan die ANC: Betaal julle huur, nie julle vriende nie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria verskyn om ’n dringende interdik te bekom wat die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) sal verhinder om R50 miljoen aan Kuba te skenk. Die uitspraak is voorbehou. Die aansoek om interdik te bekom is Deel A van AfriForum se aansoek. Deel B behels ‘n hersieningsaansoek om die besluit om die fondse aan Kuba te skenk om te keer. Deel B sal op ’n latere datum aangehoor word.

AfriForum se regsargument is op die volgende gebaseer: Eerstens het DIRCO surplusfondse van 2020 na 2021 oorgedra. Die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) bepaal egter dat fondse nie na ’n volgende jaar oorgedra mag word nie. Aangesien dit reeds 2022 is, moes die fondse aan die nasionale tesourie terugbetaal gewees het. Tweedens moet die nasionale wetgewer ingevolge die PFMA elke betaling van meer as R100 000 goedkeur. Aangesien dit nie plaasgevind het nie, is die behoorlike parlementêre proses nie gevolg nie.

“AfriForum het hierdie aansoek gebring om te keer dat die broodnodige fondse op Kuba verkwis word. Die beplande skenking is skandelik en beledigend, veral in die lig daarvan dat die regering byvoorbeeld nie eens die huurgeld vir kritieke staatsdepartemente se kantore kan bekostig nie. Die regering skuld R50 miljoen vir drie maande se huurgeld vir kantore in die middestad van Pretoria. Derhalwe moet hulle vergeet van skenkings aan hul ideologiese trawante in Kuba en daarop fokus om probleme in Suid-Afrika, wat deur hul eie onbevoegdheid en korrupsie veroorsaak is, op te los,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings