|

AfriForum adviseer Ngwathe-munisipaliteit oor water- en rioolwerke in Parys

AfriForum het sedert die sluit van ’n adviesooreenkoms met die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sowat twee maande gelede reeds belangrike verslae en advies aan dié munisipaliteit gelewer om gebruik te word om die rioolaanleg funksioneel te kry en die wateraanleg se funksionering te verbeter.

Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapsontwikkeling, verduidelik dat die verslae omvattende ingrypings voorstel om in die onmiddellike kort termyn die rioolaanleg werkend te kry. “Die rioolaanleg funksioneer nou al vir maande bykans glad nie – indien dit nie al meer as ’n jaar is nie. Die verslag wys uit wat gedoen moet word om die aanleg te laat werk.”

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het AfriForum reeds verskeie kundiges betrek om advies te lewer oor onder meer die water- en rioolaanlegte en die funksionering daarvan; die verskeie pompe wat nie werk nie of nie optimaal funksioneer nie; en die multidimensionele water- en rioolstelselbestuur.

“Hierdie verslae met aanbevelings en kwotasies is Vrydag formeel aan die munisipaliteit oorhandig. Die bal is nou in hulle hande om die advies te gebruik en die nodige verbeterings aan te bring. Indien dit nie gebeur nie, sal ons, volgens die ooreenkoms, ander stappe moet volg. Ons sal voortgaan om alles in die stryd te werp om te help verseker dat die gemeenskap die dienste kry waarop hulle geregtig is,” voeg Pretorius by.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Parys” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings