| |

AFRIFORUM, AFRIFORUM JEUG EN CHEETAHS FOR CHANGE HOU BLOEMFONTEIN SKOON

AfriForum Jeug en die AfriForum-tak in Bloemfontein het asblikke aan Cheetahs for Change geskenk om hulle te help om die omgewing om die Toyota-stadion skoon te hou. Die Mangaung-metro sukkel die afgelope paar weke om skoonmaakdienste te lewer.

Cheetahs for Change het AfriForum genader om ’n verskil in die gemeenskap te maak aangesien AfriForum reeds oor strukture in Bloemfontein beskik om dié aksies aanpak. Ses staalasblikke sal in die volgende paar dae in Parfittlaan en Att Horakstraat opgerig word. Hulle beoog om die omgewing rondom die stadion skoon te hou en ander rolspelers in die gemeenskap te betrek om ook betrokke te raak.

“Ons is dankbaar vir die geleentheid om saam met Cheetahs for Change te werk en te help om Bloemfontein skoon te hou. Die samewerking bied aan ons die geleentheid om ook ander aksies in die Bloemfontein-omgewing te ondersteun om ’n groter, volhoubare impak te maak,” sê Petri van der Walt, nasionale koördineerder van dorpstrukture by AfriForum Jeug.

“Ek is baie opgewonde oor die verhouding wat ons met Cheetahs for Change bou. Dit dien die breër gemeenskap en maak ’n daadwerklike verskil in Bloemfontein. Die samewerking tussen AfriForum, AfriForum Jeug en Cheetahs for Change gaan vrugte afwerp en ons moedig graag die plaaslike skole, ondernemings en alle inwoners aan om by ons projekte betrokke te raak en ons gemeenskap te verbeter,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder van Bloemfontein.

AfriForum en AfriForum Jeug sal aanhou om aksies te loods om ’n verskil te maak waar plaaslike munisipaliteite versuim om hul pligte na te kom. Raak vandag nog by jou naaste tersiêre of dorpstak se jeugstruktuur betrokke om ’n positiewe verskil te maak: Stuur ’n e-pos na jeug@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings