AfriForum begin regsaksie oor onwettige onderskepping van kommunikasie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n PAIA-aansoek op die gesamentlike staande komitee oor intelligensie beteken. Dit volg ná Bess Nkabinde, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, se intelligensieverslag ongerymdhede uitgewys het oor polisiebeamptes wat, onder valse voorwendsels, toegang tot mense se privaat kommunikasie bekom. AfriForum het na aanleiding hiervan sy regspan opdrag gegee om moontlike regsaksie te ondersoek.  

Die intelligensieverslag is op 10 September aan die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie voorgelê en dit het onder meer uitgewys dat die tegnologie en stelsels wat gebruik word om hierdie aansoeke en sake te moniteer verouderd en onbetroubaar is. Daar is ook geen manier om die aansoeke vir onderskepping te verifieer nie aangesien die redes wat verskaf word om die aansoeke te motiveer gereeld vals is.   

AfriForum se regspan eis dringend antwoorde oor hoeveel van die onderskeppings tot ondersoeke, arrestasies, vervolgings en vonnisopleggings gelei het, asook vir hoe lank die aansoek om kommunikasie te onderskep geldig is.

“Dit is uiters kommerwekkend dat ’n kultuur van korrupsie tesame met gebroke stelsels en wanbestuur ook in die Suid-Afrikaanse intelligensiediens se werksaamhede ’n gaping gelaat het vir magsmisbruik en kriminele aktiwiteite,” sê Jacques Broodryk, veldtogtebestuurder by AfriForum.

Soortgelyke plasings