|

AfriForum begin veldtog vir Motsoeneng se afdanking

AfriForum het vandag plakkate buite die hoofkantoor van die SAUK in Johannesburg aangebring om bewustheid te skep oor die vergrype van die bestuurshoof, Hlaudi Motsoeneng, én om sy bedanking te eis.

Die burgerregte-waghond het ook ’n nasionale petisie geloods sodat die publiek kan help om Motsoeneng se blatante toepassing van sensuur stop te sit. Van die plakkate het gelui: Ons het die reg tot die waarheid!; Hlaudi Motsoeneng = dowe oor; Hlaudi Motsoeneng = blinde oog; Julle sensor die waarheid en Is hierdie demokrasie?

Mediavryheid is op die oomblik in ’n bedenklike toestand met Motsoeneng wat besig is om die SAUK te ondergrawe en ’n skrikbewind teen joernaliste te voer. Sy optrede het tot die skorsing van drie top joernaliste gelei.

Hy het die afgelope tyd besluite geneem wat nie anders as irrasioneel bestempel kan word nie. Dit sluit sy drakoniese planne in dat tot 80% “goeie nuus” uitgesaai moet word, die verbod op beeldmateriaal oor verkiesingsgeweld, ’n voorskriftelike beleid dat radiostasies tot 90% plaaslike musiek moet speel en dat koerantopskrifte nie langer op radio of televisie gelees of gewys mag word nie.

Motsoeneng se optrede dui op die van iemand wat totaal magsdronk geraak het en hom terselfdertyd as die selfaangestelde beskermer van die mislukte ANC-regering en pres. Jacob Zuma bestempel.

 

Volgens Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder by AfriForum, kan koerante of uitsaaiers wat negatiewe nuus verdoesel nie ernstig opgeneem word in ’n demokrasie nie. “Dit is ’n verbreking van die publiek se basiese menseregte soos in die Grondwet vervat.”

Sy meen landsburgers kan nie ingeligte besluite maak sonder geloofwaardige inligting nie. “Al het die SAUK nie op die oomblik ’n greintjie geloofwaardigheid nie, moet daar geveg word om dit reg te stel.”

Taute het gesê AfriForum se regspan is tans besig om regstappe te ondersoek teen Motsoeneng wat besig is om grondwetlike regte te skend.

Die vakbond Solidariteit het ook leiding geneem en gesê die SAUK-sensuur en skorsing van joernaliste is ’n verbreking van basiese menseregte. Die vakbond het gesê enige tugstappe wat geneem word teen persone wat hul grondwetlike regte uitoefen sal in alle waarskynlikheid grof onbillik wees. Die vakbond sal stappe doen om sodanige individue te beskerm en het ’n sperdatum gestel waarop die instelling die geskorste joernaliste moet terugneem.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die SAUK-saak kan in die Konstitusionele Hof draai omdat verskeie basiese grondwetlike regte geskend is.

Teenstand teen Motsoeneng het ook verder momentum gekry met die DA wat ook voor die SAUK-gebou betoog het en by monde van Mmusi Maimane, DA-leier, gesê het dat Jacob Zuma en Motsoeneng nie die SAUK gaan kaap nie.

Daarbenewens het Jimi Matthews, waarnemende uitvoerende hoof van die SAUK ook vandeesweek bedank en aangevoer dat hy nie langer kan aanvaar en toekyk wat die openbare uitsaaier gebeur nie.

Die petisie teen Motsoeneng kan geteken word by https://afriforum.co.za/weg-met-hlaudi/

 

 

 

 

Soortgelyke plasings