|

AfriForum behaal eerste oorwinning vir prioritisering van plaasmoorde

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ons beskou vandag as ’n reuse deurbraak in die stryd teen plaasmoorde.”

So het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê nadat regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen vandag in die Pretoriase hooggeregshof beslis het dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) statistiek oor plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en 2015, sowel as die metodiek rondom die insameling van die statistiek, aan dié burgerregte-organisasie moet oorhandig.

Dit spruit uit die formele versoek wat AfriForum in Mei 2015 aan die afgedankte nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, gerig het om die SAPD se volledige plaasmoordstatistiek vir dié tydperk aan die organisasie bekend te maak.

Die aansoek is ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gebring nadat die regering in 2007 bekend gemaak het dat geen verdere statistiek oor plaasmoorde ingesamel sal word nie. Vogens Roets het Phiyega egter in Maart 2015 gesê dat die SAPD nog al die jare daarmee besig is, maar dat die syfers glo om “operasionele redes” nie gepubliseer word nie.

“Die polisie hou hierdie inligting by, maar weier sedert 2007 om dit aan die publiek bekend te maak. Uiteindelik gaan die publiek weet wat die polisie weet. Dit is egter tragies dat ’n mens tot in die hooggeregshof moes baklei om hierdie basiese inligting te bekom,” het Roets gesê.

Die SAPD het 30 dae om die jaarlikse statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en April 2015; jaarlikse provinsiale statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en April 2015; jaarlikse statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle, ingedeel volgens streke tussen 1990 en April 2015; plaaslike polisiestasies se statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en April 2015 en die dokument waarin die metodologie vir die insameling van data vir 1 tot 4 hierbo uiteengesit word, sowel as die verwerking daarvan, ná die betekening van die hofbevel bekend maak.

AfriForum en TLU SA het op 10 Februarie vanjaar hulle jongste statistiek vir plaasaanvalle en-moorde in Suid-Afrika bekendgestel, wat toon dat daar tussen 1990 en 2015 ‘n totaal van 1785 plaasmoorde en 3745 aanvalle plaasgevind het.

Roets het gesê dat die eerste stap nou gaan wees om die statistiek wat deur die TLU en AfriForum versamel is, te verglyk met díe van die SAPD.

“Na afloop van Phiyega se uitlatings oor plaasmoordstatistiek verlede jaar, vermoed ons dat ons statistiek moontlik meer akkuraat as díe van die SAPD kan wees.”

Hy het voorts gesê dat die statistiek geanaliseer gaan word om te bepaal watter gebiede die kwesbaarste is vir plaasaanvalle en -moorde om sodoende te bepaal waar AfriForum hul veiligeheid netwerke meer doeltreffend kan maak.

AfriForum dryf sedert 2012 reeds ’n veldtog om korrekte statistiek rondom plaasmoorde en -aanvalle te bekom, asook om dié misdade te prioritiseer. Volgens Roets sal die publisering hiervan die eerste stap in die prioritisering van plaasmoorde wees.

 

Soortgelyke plasings