|

AfriForum behaal oorwinning in hof teen die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit oor rioolstorting

Die Hooggeregshof in Mafikeng het op 19 Januarie bevind dat die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit binne 30 dae moet begin om die nodige herstelwerk aan die rioolaanleg in Klerksdorp te doen. Dit volg nadat die AfriForum-tak in Klerksdorp reeds in April 2021 ’n dringende brief aan die Matlosana-munisipaliteit gerig het oor die haglike toestand van die rioolwerke. Die feit dat die meeste van die masjinerie op die rioolwerke buitewerking is, het tot gevolg dat rou riool direk in Schoonspruit invloei.

“Sedert April 2021 het AfriForum baie werk gedoen om te help om die probleem op te los. ’n Spesialisverslag is onder meer aan die munisipaliteit verskaf vir die nodige herstelwerk. Die gesondheidsrisiko van rioolwerke wat nie behoorlik in stand gehou word nie is enorm, nie net vir die mense van die gemeenskap nie maar ook vir diere en die omgewing in geheel. Dit is ook waarom AfriForum besluit het om hierdie saak voor die hof te bring, sodat herstelwerk teen ’n billike koste gedoen kan word tot voordeel van die gemeenskap,” sê Petrus Coetzee, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Die uitspraak behels die volgende:

  • ’n Verklarende bevel dat die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit versuim om sy grondwetlike plig na te kom – spesifiek met betrekking tot die onvoldoende bestuur van die rioolaanleg wat gelei het tot rioolstorting en onderbrekings in die munisipaliteit se dienslewering.
  • Die munisipaliteit moet binne 30 dae met die herstel van die aanleg begin.
  • Die munisipaliteit moet binne 90 dae aan die hof terugvoer gee oor die vordering van die herstelwerk.

“Mense en diere is jare reeds blootgestel aan die gesondheidsrisiko’s wat gepaardgaan met die munisipaliteit se agterlosige gebrek aan herstelwerk, onderhoud en behoorlike bestuur van die rioolaanleg. Ons is dus baie bly oor hierdie uitspraak wat die munisipaliteit tot verantwoording roep en ons is hoopvol dat ons nou werklik ’n verskil sal sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om munisipaliteite tot verantwoording te roep. Word deel van die oplossing: SMS “munisipaliteit” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings