|

AfriForum behaal oorwinning teen onredelike inperkinginhegtenisnemings

Die staat het die klagtes laat vaar teen die beskuldigde in een van die sake oor onredelike inperkingsinhegtenisnemings wat deur AfriForum aangepak is.

Dit volg nadat AfriForum op 1 Junie 2020 aangekondig het dat hy twee loodssake aanpak om onredelike inhegtenisnemings op grond van die huidige regulasies te stuit. In dié spesifieke aangeleentheid is ’n man deur die SAPD gearresteer nadat hy afgetrek is. Hoewel die man die nodige permit byderhand gehad het is hy vir ivoorverwante oortredings gearresteer omdat daar ’n ou paar koedoehorings in sy voertuig se kattebak was.

Die ander saak – wat handel oor die inhegtenisneming van ’n persoon omdat hy nie die koopbewys van sy sigarette kon toon nie – dien weer op 21 Augustus 2020 op die rol van die Roodepoort Landdroshof.

AfriForum het onderneem om sy regspan beskikbaar te stel om die strafsake teen die beskuldigdes teen te staan, asook om die beskuldigdes daarna te help om siviele eise teen die wetstoepassingsowerhede in te stel weens dié onregmatige inhegtenisnemings.

“Ons is saam met die beskuldigde bly dat die saak teen hom teruggetrek is. Ons sal nou die saak enduit voer om dit vir die wetstoepassingsowerhede duidelik te maak dat landsburgers nie langer as slaansakke vir magsdronk wetstoepassers sal dien nie,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

Die SAPD het op 19 Mei 2020 ’n dokument aan polisiestasies gestuur om sy lede wéér te verwittig van wanneer inhegtenisnemings en geweld gepas is. Die dokument stel ook onomwonde dat lede wat nie die korrekte prosedures volg nie, persoonlik verantwoordelik gehou sal word vir enige vergoeding wat die SAPD vir dié lede se wangedrag moet opdok.

“Dit sal eerste prys wees as die skuldige beamptes uit hul eie sakke vir vergoeding moet opdok, en nie die belastingbetaler nie,” sluit Kamfer af.

Soortgelyke plasings