|

AFRIFORUM BEHAAL OORWINNING VIR DOKTERS OM IVERMEKTIEN TE MAG VOORSKRYF

Deur Alet Rademeyer

AfriForum en die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) het ’n skikking bereik wat dit vir dokters moontlik maak om behandeling met ivermektien te begin gelyklopend met die indiening van ’n artikel 21-aansoek, in gevalle waar dringende toegang tot ivermektien volgens die oordeel van die dokter vir ’n pasiënt nodig is.

Regter Peter Mabuse het dié skikking vandag ’n bevel in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria gemaak.

Regter Peter Mabuse.

Ingevolge die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels moet ’n artikel 21-aansoek deur mediese praktisyns aan SAHPRA gerig word om medisyne voor te skryf wat nie in Suid-Afrika geregistreer is vir menslike gebruik nie.

Volgens Barend Uys, hoof van Navorsing by AfriForum, is dit ’n grensverskuiwende deurbraak aangesien dokters nie vir die goedkeuring van die artikel 21-aansoek hoef te wag voordat daar met behandeling begin word nie. “Dit is verder ’n groot oorwinning omdat die besluit om met behandeling te begin aan mediese dokters se oordeel oorgelaat word. Die hofbevel bepaal voorts dat enige persoon in aanmerking kom vir toegang tot ivermektien en dat mediese dokters daarop geregtig is om aansoek te doen vir toegang tot ivermektien.”

Die gedeelte van die oorspronklike hofaansoek wat gaan oor die reg van mediese dokters en aptekers om volgens artikel 14(4) van die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels medisyne saam te stel, is uitgestel en sal op die normale hofrol geplaas word en op ’n latere datum aangehoor word.

Uys sê dit is verblydend dat ’n mediese dokter nou met die behandeling van ’n pasiënt met ivermektien kan begin sonder om te wag vir die goedkeuring van ’n ingediende artikel 21-aansoek. “Dié vinnige toegang tot ivermektien is ’n deurbraak vir vryheid in mediese sorg en ons stryd teen COVID-19, aangesien die hindernis van vooraf goedkeuring nou uit die weggeruim is. Dit is ’n belangrike eerste stap in ons poging om toegang tot ivermektien te verseker.”

Dr. George Coetzee, die eerste applikant in die hofaansoek sê: “Ek is bly vir die sekerheid wat die hofbevel gee dat dokters hul kliniese oordeel aan die dag kan lê om met ivermektien-behandeling te begin wanneer toegang dringend nodig is.”

Die bepalings wat ingevolge die hofbevel geld, kan slegs gewysig word indien die hof weer genader word en ’n nuwe beslissing gemaak word. SAHPRA kan nie die bepalings eensydig wysig nie.

Uys sê AfriForum gee graag erkenning aan ander rolspelers, soos die ACDP en SAHARI wat ’n bydrae lewer om toegang tot ivermektien vir burgers te verseker en bewustheid daaroor te skep. “Ons gaan voluit saam met dié en ander burgerlike instellings voort met ons poging om te verseker dat ivermektien optimaal aangewend kan word om mense gesond te maak en lewens te red.”

Die debat rondom die moontlikheid dat ivermektien dalk doeltreffend in die behandeling van COVID-pasiënte kan wees, woed reeds geruime tyd plaaslik en oorsee.

Medici wat ten gunste van ivermektien en die gebruik daarvan vir menslike gebruik is, meen dit kan nog baie lank duur voordat ’n entstof in Suid-Afrika algemeen beskikbaar is.

Ivermektien word reeds langer as ’n halfeeu wêreldwyd gebruik om rivierblindheid, luise en brandsiekte te behandel. ’n Weergawe van die middel vir menslike gebruik was voorheen in Suid-Afrika geregistreer, maar tans is die middel net geregistreer om wurms en parasiete by diere te bekamp.

Ondanks dié toedrag van sake blyk dit dat talle mense, waaronder medici, die diereproduk onwettig gebruik. Dit het tot gevolg dat die aanvraag na die diereproduk die hoogste ingeskiet het en dat tekorte reeds plek-plek ervaar word.

Dr. Theo de Jager, uitvoerende hoofdireksielid van Saai en president van die Wêreldboereorganisasie (WFO), is ook ten gunste van die gebruik van ivermektiem vir menslike gebruik. Hy meen boere is reeds jarelank vertroud met die middel asook die uitwerking daarvan.

De Jager meen in die lig van ’n gebrek aan entstof op die oomblik, rus daar ’n verpligting op die Suid-Afrikaanse regering om dokters toe te laat om die middel aan pasiënte voor te skryf.

Die tweede gedeelte van AfriForum se hofsaak asook die aansoek van die ACDP oor ivermektien sal saam aangehoor word nadat die partye aangedui het dat ’n versoek om ’n spesiale verhoordatum aan die adjunkregterpresident gerig sal word.

AfriForum het ook ‘n moniteringsportaal geskep waar uitdagings wat met SAHPRA se aansoekproses ervaar word gerapporteer kan word. Dié portaal kan bereik word by SAHPRA/ivermektien-aansoekmonitering – AfriForum. 

Soortgelyke plasings