AfriForum behaal sukses in hofsake oor inhegtenisnemings weens inperkingsregulasies

AfriForum het onlangs twee beskuldigdes suksesvol in strafhowe verdedig in twee loodssake wat tydens die inperking deur dié burgerregteorganisasie aangepak is. AfriForum het besluit om dié persone – wat onregmatig in hegtenis geneem is – te ondersteun sodat geregtigheid kan geskied.

In die eerste geval is ’n man deur die SAPD gearresteer nadat hy afgetrek is. Hoewel hy die nodige permit gehad het, is hy in hegtenis geneem vir ivoorverwante oortredings omdat daar ’n paar ou koedoehorings in sy voertuig se kattebak was.

In die tweede geval is ’n man in hegtenis geneem omdat hy sigarette in sy besit gehad het.

Beide mans is in hegtenis geneem omdat hulle glo die inperkingsregulasies oortree het. AfriForum het sy regspan opdrag gegee om hulle in die strafhof te ondersteun. In albei gevalle het die beskuldigdes ongeskonde daarvan afgekom, waarvan die laaste saak vroeër vandag voorgekom het.

“Hierdie is ’n reuseoorwinning vir die burgers van Suid-Afrika teen die onredelike gedrag van lede van wetstoepassingsowerhede tydens die inperking, wat agter kwansuise oortredings van die inperkingsregulasies verdoesel word,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

AfriForum sal albei mans nou help om siviele eise teen die betrokke owerhede in te stel, en meer spesifiek teen die onderskeie lede wat hulself aan dié magsvergryp skuldig gemaak het.

“Die SAPD het sy lede gedurende die inperkingstydperk gemaan om met groot omsigtigheid met inhegtenisnemings in die inperkingstyd te werk te gaan. Lede is ook gewaarsku dat hulle persoonlik verantwoordelik gehou sal word vir enige kostes wat die SAPD moet aangaan weens siviele eise wat ten gunste van verontregtes teen die SAPD ingestel sou word. Ons wil graag sien dat die betrokke lede les opsê pleks daarvan die belastingbetaler die onderspit moet delf weens lede se onverantwoordelike gedrag,” sluit Kamfer af.

Soortgelyke plasings